BULELWA Kanana (31) van Somerset-Oos het op 19 Augustus 2017 in die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth die trotse ma van ’n vierling – almal meisies – geword.
Haar dogtertjies, Lunomandla, Lumnandi, Lunothando en Lujulile, het onlangs hul eerste verjaardag gevier. Hulle vierjarige sussie, Anami Tina, was aanvanklik nie baie beïndruk toe sy van die vier nuwe sussies hoor nie, maar nou is sy lief vir hulle en speel graag met hulle.
Volgens die vierling se ma is hulle baie soet, slaap hulle vas en kry jy hulle nie eens wakker as hulle gekielie word nie.
Gevra hoe dit gaan met die uitken van die viertjies, sê sy dat sy soms ook maar twee keer moet kyk om seker te maak wie is wie.
Kanana werk by Cash Loans, maar haar man is steeds werkloos. Sy sê dis nie ’n grap om vyf kinders groot te maak nie, maar sy is dankbaar dat hulle blakend gesond is en goed vorder, ten spyte daarvan dat hulle te vroeg gebore is. Sy sê hulle is baie bly oor die ondersteuning wat hulle van besorgde Somersetters kry.
Belangstellendes wat graag wil help kan 072 653 1545 skakel.




