DIE Graaff-Reinet-gemeente van die Verenigde Gereformeerde Kerk vier vanjaar sy 200ste bestaansjaar.

Die Graaff-Reinetsche Zendelings Genootschap is op 1 Augustus 1819 gestig, en ’n perseel in Kerkstraat is aan die gemeente toegeken in 1821.

As gevolg van die Groepsgebiedewet van 1950 moes gemeentelede van die VGK hulle hervestig in Kroonvale, wat tot gevolg gehad het dat die kerkgebou en gemeente kilometers van mekaar geskei was. Gemeenteleiers was genoop om die pragtige kerkgebou en perseel in 1964 vir R20 000 aan die Total Oliemaatskappy te verkoop. Laasge-noemde het beplan om die gebou vir die oprigting van ’n moderne vulstasie te sloop, maar hier het dr. Anton Rupert ’n stokkie voor gesteek.

Nadat die gebou deur die Rembrandt-stigting oorgekoop is, is dit sorgvuldig gerestoureer en omskep in die Hester Rupert-kunsmuseum. Die pragtige preekstoel en gedenkplate van die gemeente het behoue gebly en kan steeds vandag besigtig word.

Die huidige kerkgebou in Kroonvale is in 1967 deur ds. FJ Bessinger geopen.

Twee weke gelede het die eerste van verskeie vieringsgeleenthede wat vir die jaar beplan is, plaasgevind. Ds. Gawie Basson, wat van 1984 tot 2006 in die gemeente werksaam was, het ’n kort herdenkdiens by die Hester Rupert-kunsmuseum gelei. Hierna is daar in ’n motorkonvooi verby die Robert Sobukwe-gebou gery tot by die ou Kroonvale-swembad, waar die res van die gemeente by die optog aangesluit en, begelei deur die Kerk brigade-orkes, tot by die huidige kerkgebou in Du Plessisstraat in Kroonvale beweeg het. Hier is ’n spesiale nagmaaldiens onder leiding van ds. Petrus Gysman gehou.

Besoek hul spesiale Facebook-blad VGK Graaff-Reinet: 200-bestaansjaarvieringe 2019.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article