DIE nege verdagtes wat daarvan aangekla word dat hulle ’n koedoebul vroeër vanjaar in die Newtown-woonbuurt gejag, met pype geslaan en lewend geslag het, het verlede week in die landdroshof op Fort Beaufort verskyn.

Hulle is verlede Woensdag vroegoggend in ’n klopjag deur die polisie in samewerking met die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme by hulle wonings aangekeer.

Luidens ’n berig in Die Burger van 16 April is hulle gearresteer weens die onwettige jag van koedoes.

Die voorval het vroeg in Maart plaasgevind. Die verdagtes het verlede Donderdag in die hof verskyn en is elk op borgtog van R1000 vrygelaat. Hulle moet op 13 Junie weer in die hof verskyn. Een van die tien aangekeerde verdagtes sal nou as staatsgetuie optree.

Die polisie soek na drie ander verdagtes wat met die voorval verbind word.

Intussen het André Baartman van die nasionale dierebeskermingsvereniging hom ook ten sterkste teen die voorval uitgespreek.

’n Ontstoke inwoner het haar misnoeë met die arrestasie van die koedoeslagters op sosiale media uitgespreek. Sy het die polisie gekap dat hulle so flink teen wildstropers optree maar hande vou wanneer dit by dwelmhandel kom. Die inskrywing is verskeie kere gedeel en het ’n magdom reaksies uitgelok.

Die polisie het die afgelope Vrydag op die tuiste van ’n vermeende dwelmhandelaar in die Newtown-woonbuurt toegesak. In die klopjag is daar op ’n onbekende hoe-veelheid dwelms beslag gelê.

Met Mid-Karoo Express se besoek aan die toneel was die polisie besig om die huis te deursoek en het nuuskieriges in groepies rondgestaan. ’n Verdagte is inhegtenis geneem en het die afgelope Maandag op ’n dwelmverwante klag in die hof op Fort Beaufort verskyn. Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat en moet op ’n latere datum weer in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article