DIE vermoorde Anette Jooste (58) van Vereenig-ing se vermeende moordenaars sal voorlopig in aanhouding bly nadat hulle Dinsdag hul aansoek om borgtog in die hof in Graaff-Reinet teruggetrek het.
Jooste het Chené Chantall Verwey (48) en Mandla Khumalo (28) ’n saamrygeleentheid gebied toe sy in Junie van Vereeniging na Mosselbaai sou reis. Sy het nooit in Mosselbaai aangekom nie. Sy is uiteindelik geïdentifiseer byna ’n week nadat haar lyk op 13 Junie met ’n kopwond net buite Graaff-Reinet op die pad na Middelburg gevind is.
Kaptein Bradley Rawlinson, woordvoerder van die SAPD in Graaff-Reinet, sê dat Jooste se selfoonsein die polisie na Vereeniging teruggelei het, waar haar selfoon en motor in die verdagtes se besit gevind is. Dié twee sal weer op 2 September in die hof verskyn. – ELSABÉ PIENAAR

