VERVOLG VANAF BL. 1
HIERDIE sertifikaat, asook vervoerpermitte, is nou ook ’n vereiste op alle veilings.
Du Toit het gesê boere verwelkom die skerper maatreëls op veilings. “Dis vir elke produsent se eie beswil, asook die uitvoermark. Ons moet aanhou sterk staan en nie poog om die maatreëls af te water nie.
“Met die baie reën wat in sekere gebiede voorgekom het, moet ons ook steeds die risiko van slenkdalkoors in ag neem. Van tyd tot tyd word produsente daarteen gewaarsku en hopelik is alle diere nou daarteen ingeënt.
“Ons kan sien hoe vinnig ’n probleem deesdae in ’n krisis kan ontaard, en daarom is voortydige, verantwoordelike optrede die antwoord. En dit moet geld vir alle rolspelers tot by ons verskillende landboudepartemente.”
Volgens Marzanne Polydorou, ’n ondersteuningsbeampte by die nasionale dieregesondheidsforum, moet eienaars verseker dat hul diere deur ’n gesondheidsinspeksie-sertifikaat, wat deur staatsveeartse en ook private veeartse uitgereik word, vergesel word.
“Boere moet te alle tye seker maak dat die diere wat hulle aankoop, gesond is. Hulle is heeltemal geregtig daarop om aan te dring op ’n gesondheidsertifikaat,” het sy bygevoeg.

