Sommige hospitale en braairestaurante in townships gebruik die vleis van gesteelde vee. Dit is hoe wydverspreid en georganiseerd veediefstal geword het, het Bheki Cele, minister van polisie, in die parlement gesê by die bekendstelling van die misdaadstatistieke.
Veediefstal het met 2,9% toegeneem van 28 849 voorvalle in die 2017-’18-boekjaar tot 29 672 voorvalle in die 2018-’19-boekjaar.
Genl.maj. Norman Sekhukhune, hoof van misdaadnavorsing en statistieke, sê 9 273 daarvan het in landelike gebiede, 7 865 in bewoonde gebiede en 1 652 in informele gebiede plaasgevind.
Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê die probleem is wel veel erger as wat die polisie se syfers laat blyk omdat boere dié diefstal nie meer aanmeld nie.
“Die aanmeldsyfer is maar sowat 20%.
“As ons boere kan oorreed om alle veediefstalvoorvalle aan te meld, sal ons ’n beter prentjie kry van wat werklik aan die gang is.”
Vroeër is berig dat die huiwerigheid om veediefstal aan te meld deels toegeskryf kan word daaraan dat boere nie veel vertroue in die polisie het om die diere terug te kry nie.
Volgens Clack verteenwoordig daardie 29 672 voorvalle ’n verlies van R200 miljoen vir die ekonomie.
Cele het ook verwys na die negatiewe impak van veediefstal op die ekonomie.
“Dit lei tot die verlies van inkomste. Vir iemand wat 20 stuks vee het en alles word gevat – vir daardie huishouding is dit die ergste bankrooftog.
“Die impak kan selfs erger wees vir daardie huishouding wat nie versekering het nie en wat al hul pensioen(geld) in daardie vee belê het.”
Cele sê veediefstal is ’n “hoogs georganiseerde misdaad”.
“Dit kom nie lukraak voor nie. Ons weet dat baie shisa nyamas (braairestaurante) gesteelde vleis gebruik. Selfs amptelike instellings – ons vind sommige hospitale word soms voorsien van gesteelde vleis.”
Hy sê dit is dikwels ook ’n oorgrensmisdaad wat veral in lande- like gebiede naby die landsgrens voorkom.
Dié kwessie is op die agenda op vergaderings met buurlande.
“Ons praat met die Mosambiekse minister van polisie. Vergaderings het plaasgevind tussen ’n LUR van die Vrystaat en amptenare van Lesotho oor dié kwessie,” sêCele.
Die misdaad het boonop gewelddadig geword.
“Hulle klop aan jou deur en waarsku jou om nie uit te kom nie.
“Hulle vuur een of twee skote af as waarskuwing en vat die hele kraal en hulle gaan.”
Hulpbronne word wel beskikbaar gestel om veediefstal te beveg.
– NETWERK24



