DAAR is ’n 60% styging in veediefstal in die Oos-Kaap en die dae dat daar net ’n paar skape vir die pot geslag is, is lankal verby.

“Vee word nou gesteel om mee te boer,” het kaptein Jan Greyling, hoof van die veediefstaleenheid in Cradock en omliggende distrikte verlede Vrydag by ’n vergadering van Cradock se distrikslandbou- unie gesê.

Greyling het boere weer eens gewaarsku dat indien hulle vee nie getatoeëer is nie, dit ’n uitnodiging vir veediewe is.

Hulle tatoeëer in so ’n geval net hul eie nommer in die oor en die polisie het nie ’n been om op te staan nie.

Hy het gesê dat hulle ook al gevalle gekry het waar die diere se ore summier halfpad afgesny is om die tatoeëermerk te verwyder. In sulke gevalle het hulle die oortreders ook by die DBV aangekla.

Greyling het gesê dat veediewe uitge-slape is. Hy het ’n voorbeeld genoem van diewe wat skape in Cradock-distrik steel, en dit op dieselfde dag nog omruil vir beeste wat by Komani (Queenstown) gesteel is.

Hy het ook gewaarsku teen ’n nuwe tendens dat wol en bokhaar gesteel word en dat die polisie ’n vermoede het dat sekere skeerspanne dalk inligting aan die oortre-ders oordra. Hy het boere gewaarsku dat hulle so gou as moontlik na hulle klaar ge-skeer het, hul wol of bokhaar vir veiligheid na veilings toe moet vervoer.

Kapt. Greyling het gesê daar is ’n tekort aan personeel in die veediefstal-eenheid wat dit moeilik maak om sake behoorlik te ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article