VEEBOERE word versoek om hul beeste, skape en bokke dringend teen miltsiekte in te ent.
Miltsiekte kom ook voor by wild en daarom mag wildsvleis wat hiermee besmet is nie ge-ëet word nie.
Boere moet ook uiters versigtig wees wanneer hulle diere inkoop en moet seker maak dat dié diere siektevry is. Die verskuiwing van diere (vee en wild) moet sover moontlik vermy word.
Indien enige gevalle van vrektes voorkom, moet die karkas met groot omsigtigheid hanteer word. Moet dit nie oopsny of slag nie.
Dié waarskuwing volg nadat miltsiekte naby Maseru in Lesotho uitgebreek het en mense die vleis geëet het. Gevolglik is hulle ook besmet met die virus.
Die besmette gebied is binne ’n radius van 10 kilometer onder kwarantyn geplaas.
Boere van die Ha-Tseka-distrik is gewaarsku om nie hul diere na ’n skou in Maseru te neem nie. Die verskuiwing van diere tussen die Vrystaat en Lesotho sal beperk word en geen dierehandel sal toegelaat word nie.
Die gebiede wat geraak word sluit in: Ladybrand (Maseru-sone), Zastron, Wepener, Maputsoe, Botha Bothet en Thabo Mofutsanyane.
Miltsiekte word deur die bakterie Bacillus anthracis veroorsaak. Die bakterie word ingeneem wanneer diere besmette water drink of besmette plantmateriaal of bene na vrektes eet.
Van die tekens waarna opgelet moet word wat ’n aanduiding is van moontlike miltsiekte is:
. Geen eetlus en dier bly lê;
. Afname in melkproduksie;
. Bloederige melk;
. Moeilike asemhaling.
Vrektes kan binne 72 uur ná besmetting plaasvind. In sommige gevalle loop daar bloed by die anus en neusholtes uit.
Elke milliliter bloed van ’n dier wat weens miltsiekte vrek, bevat miljoene bakterieë. Dié bloed besmet die omgewing en kan vir tot 250 jaar in die grond/omgewing oorleef as ’n spoor (weerstandbiedende vorm van die bakterie).
Spore word gevorm wanneer besmette liggaamsvloeistof in aanraking kom met suurstof (bv. waar ’n dier gebloei het, of indien ’n miltsiektekarkas oopgesny word). Om hierdie rede moet ’n miltsiektekarkas nooit oopgemaak word nie.
Mense wat miltsiekte opdoen, kry ’n velvorm van die siekte indien wonde besmet word, ’n longvorm indien hulle spore inasem en ’n dermvorm van die siekte indien besmette vleis geëet word. Die longvorm is die dodelikste.
Volgens wetgewing (Wet 35 van 1984) móét alle diere elke jaar teen miltsiekte ingeënt word.
Beheer van miltsiekte by diere
. Vee moet jaarliks hierteen ingeënt word.
. Karkasse moet nie oopgesny word nie.
. Karkasse moet ten minste twee meter diep begrawe word en die grond moet deeglik met kalk chloried behandel word.
. Karkasse kan ook verbrand word sonder dat hulle oopgesny word.
. Verdagte gevalle moet dadelik by die naaste dieregesondheidstegnikus of staatsveearts aangemeld word.
. Die staatsveearts kan metodes voorskryf om die terrein, voertuie en ander produkte te ontsmet.
Beheer van miltsiekte by mense
. Die vleis van besmette karkasse mag nie geëet word nie.
. Alle kontak met die miltsiekte-karkas moet vermy word.
. Dra beskermende klere wanneer die karkas begrawe of verbrand word.
Simptome
. Diere kan binne twee ure vrek sonder om enige kliniese simptome te toon.
. Koors.
. Moeilike asemhaling.
. Spierspasmas en rooiheid van slymvliese kan voorkom.
. Bloederige uitskeiding uit die neus, mond en anus.
. By gevorderde gevalle kan swelling van die kop en nek voorkom, wat tot asemhalings- en slukprobleme kan lei.
Diagnose
Miltsiekte word deur middel van ’n bloed-smeer gediagnoseer.


