TWEE Belgiese studente wat deel van hul finale jaar prakties op Cradock doen, is moedeloos nadat vandale by hul werksperseel ingebreek, die plek gestroop en al hul dokumente en bewys van werk wat gedoen is, uitgebrand het.
Emeli Beulgue en Lisa Deprez is derde jaar arbeidsterapie-studente van die Howest skool in Kortrijk en het op 3 Februarie in Cradock aan- gekom. Hulle werk drie dae per week by Nomzamo, ’n skool vir kinders wat verstandelik en fi-siek gestremd is en twee dae per week by Lukhanyo waar volwassenes met gestremdhede opgelei word.
Volgens Emeli het vandale die skoolvakansie by Nonzamo ingebreek en al die vertrekke geplunder. Alle pype en kabels vir elektrisiteit, die stoof en toilette is uitgebreek, vensters is gebreek, opvoedkundige speelgoed, boeke en alle rekords van hul werk wat reeds gedoen is, is op die vloer van een van die kamers verskeur en uitgebrand.
“Die arme kinders is nou so senuweeagtig en bang en kan glad nie verstaan wat aan die gang is nie,” het Lisa gesê.
Emeli het verduidelik hoe bekommerd hulle oor die welstand van die tussen 20 en 30 kinders is wat daagliks skool toe kom. Hulle kan nou nie die warm, voedsame maaltyd wat die meeste van hulle net een keer op ’n dag kry, geniet nie omdat die stoof beskadig is. Met die gat in die plafon en die stukkende vensters het hulle ook geen beskerming teen die koue winter wat in aantog is nie. Die toilette is ook onbruikbaar aangesien al daardie pype ook uitgebreek is.
“Ons is baie dankbaar dat geen skade by Lukhanyo, waar gewoonlik ’n groep van 25 volwassenes is, aangerig is nie,” het hulle gesê. Dié studente het vanjaar al geleer om kasdeure te maak en is baie trots op hul groentetuin. Hulle sing vrolik terwyl hulle die plante versorg.
Die projek om Belgiese derde-jaar-studente na Cradock te bring is agt jaar gelede deur Belgiese toeriste, Linda Balcaen en Geert Dedrie, begin. Ongeveer sestig Belgiese meisies het deur die jare al aan die projek deelgeneem.




