Vandale op Fort Beaufort het oor ’n tydperk van twee jaar, stelselmatig die dorp se twee biblioteke rot en kaal gesteel en gevandaliseer.
Die biblioteke is die Newtown-biblioteek in Fort Beaufort se Newtown-woonbuurt en die Washington Bongco-biblioteek in die Tinis-woonbuurt.
By die Newtown-biblioteek is onder meer koperwaterpype gesteel, die toilette is stukkend geslaan, rekenaartoerusting sowel as meubels, soos stoele en tafels, is gesteel.
Volgens Sharon Pieters, bibliotekaresse van die Newton-biblioteek is dit nie meer die moeite werd om daagliks vir diens by dié biblioteek aan te meld nie.
“Ons biblioteek was op ’n stadium ’n baken van trots in ons gemeenskap. Maar, dit is lankal nie meer die geval nie,” het Pieters aan Komani-Karoo Express gesê.
Volgens Pieters lê boeke die hele perseel vol en daar word selfs in die gebou geurineer en broeklosgemaak. Vensterrame is uitgeruk en is vermoedelik deur die vandale verkoop.
Die gemeenskap blameer nou die plaaslike munisipaliteit omdat hulle nie moeite gedoen het om voldoende sekuriteit by die biblioteke in plek te stel nie.
By die Washington Bongco-biblioteek is die situasie soortgelyk.
Prinsipale van die twee plaaslike primêre skole was dit eens dat die munisipaliteit die gemeenskap en die skole se kinders in die steek gelaat het.
“Fasiliteite waar kinders broodnodige navorsing vir hul studies gaan doen het is nou niks meer as bouvalle nie,” het hulle gesê
Intussen word die dorpsbiblioteek opgegradeer en sal dit later vanjaar vir die publiek oopgestel word.



