IN Mid-Karoo Express se reeks oor die Graaff-Reinet-museumkompleks lê ons vandeesweek besoek af by Urquharthuis op die suidelike hoek van Markplein.
Op grond van dié tipiese Kaaps-Hollandse woonhuis se neo-klassieke gewel (met ’n anker in die messelwerk van die fasade) word gereken dat die huis in ongeveer 1821 voltooi is, waarskynlik in opdrag van die eerste eienaar van die perseel, Johan Hendrik Gryling.
Een van die huis se vroeë eienaars was die welgestelde sakeman, Charles James Spiller, ’n 1820 Setlaar. In Mei 1866 het Spiller een nag opgestaan om ondersoek in te stel nadat hy ’n geraas gehoor het. Aanvallers het toe reeds ’n venster oopgeforseer, en hy is deur ’n assegaai in die maag getref. Spiller is die volgende aand oorlede, en die dorp was in rep en roer oor wat die motief vir die moord kon wees.
’n Jaar later is een van sy vermeende moordenaars in Tulbach aangekeer, en het erken dat dit ’n huurmoord was in opdrag van Spiller se seun, met die oog op ’n groot som erfgeld.
Later jare het sakeman, David Carel Schultz, die huis gemoderniseer en omskep in die Clegg’s Midlan-hotel. In ’n plaaslike koerant het Schultz net die smaaklikste geregte, die mees uitsonderlike drank, ’n gerieflike rookkamer en goed toegeruste perdestalle aan sy klandisie belowe.
Ná Schultz se afsterwe is die huis in 1912 deur Herbert Urquhart, die dorp se langsdienende burgemeester, bekom. (Urquhart en sy vrou, Mabel van Niekerk, is op 11 April 1911 getroud, maar geen kinders is uit die huwelik gebore nie.) Sy het die huis steeds bewoon ná Urquhart se afsterwe in 1943, en is deur haar prokureur aangeraai om haar besittings aan iemand te bemaak, maar is op 18 Oktober 1963 op haar badkamervloer oorlede voordat sy dit kon doen.
Op 25 Februarie 1964 is die huis met sy uiters waardevolle versameling antiekhede, Africana, kosbare Oosterse tapyte en skilderye op ’n veiling verkoop. Die munisipaliteit het die huis vir R16 000 gekoop en as losieshuis aangewend, maar dit het mettertyd erg verwaarloos. Uiteindelik het plaaslike argitek Peter Whitlock, toe nog vars uit die universiteit, navorsing begin doen oor dié gebou en ander uit dieselfde era, en onder die wakende oog van die bekende Dirk Visser het Whitlock die restourasie van Urquharthuis aangepak. Fondse is ingesamel, en die huis is weer in sy oorspronklike Kaaps Hollandse glorie herstel.
Vandag weerspieël die binneversiering van Urquharthuis die Victoriaanse periode (ongeveer 1912-1943) en een van die huis se mooiste elemente is die goed toegeruste kombuis met ’n asemrowende perskepitvloer, ’n tipiese vloerbedekking van kombuise uit die Kaaps-Hollandse era.
Besoek Urquharthuis Maandae tot Donderdae van 08:00 tot 13:00 en 13:45 tot 16:30, Vrydae van 08:00 tot 13:00 en 13:30 tot 16:00. Saterdae is die huis op elke tweede Saterdag oop en Sondae, asook openbare vakansiedae is dit gesluit.
Kontak die museum vir die skedule by 049 892 3801.


