’n Twaalfjarige laerkoolleerling wat op Woensdag, 10 November in ’n vlei oorkant sy skool verdrink het, is die afgelope Saterdag tydens ’n hartroerende diens op Fort Beaufort ter ruste gelê.
Keagan Prince was ’n graad 6-leerling aan die Junior Sekondêre Skool Newton op Fort Beaufort.
Volgens maats wat saam met Prince ná skool in die vlei gaan lafenis soek het, het hy in die moeilikheid beland toe die ou yskasdeur, wat hulle as ’n vlot gebruik het, omgeslaan het.
“Ons het gesien hoe die vlot met Keagan in die middel van die vlei omslaan. Hy het net een keer sy hand bo die water uitgesteek en toe het ons hom nie weer gesien nie,” het een van sy getraumatiseerde maats aan Komani Karoo Express gesê.
Omstanders het later sy lyk uit die vlei gehaal nadat hulle tevergeefs probeer het om die paramedici in die hande te kry. Met die polisie se koms kort ná 18:00 het hulle Prince dood verklaar. Hy is die kind van Mayverine (28) en Sidwell Petrus (34).
Beraders is kort ná die voorval deur die onderwysdepartement na die skool gestuur vir emosionele ondersteuning aan die oorledene se klasonderwyser, sowel as sy klasmaats.
Die polisie het ouers op Fort Beaufort gemaan om veral tydens die komende feesseisoen ’n wakende oog oor hul kinders te hou. Verdrinkings neem toe hierdie tyd van die jaar.
Nog ’n verdrinking
Skaars twee weke ná Prince se verdrinking, is die Newtown-gemeenskap van Fort Beaufort geruk met die verdrinking van Given (Tubby) Hewitt (39).
Volgens sy pa, Isaac Wentzel (61) was Given die oudste van sy vyftien seuns.
“Tubby het saam met my en van sy broers en vriende na ’n dam naby Middeldrift gegaan om vis te vang toe die fratsongeluk gebeur het.
“Tubby wou na die anderkant van die dam swem toe sy kragte hom skielik in die middel van die dam verlaat,” het Wentzel aan Komani-Karoo Express gesê.
“Hy het onder die water verdwyn en ons het hom nooit weer gesien nie.”
Polisieduikers van Oos-Londen kon eers Saterdag teen etensuur daarin slaag om Hewitt se liggaam uit die dam te haal.
Begrafnisreëlings is nog nie getref nie omdat die familie nog wag vir die uitslae van die nadoodse ondersoek.


