Met Nuusdagom8 se besoek aan die Hoërskool Newtown was, van links, Elten Bantam, Craig Fester, Benito Carelsen (kameraman), Lorraine Kani, Marjorie Fester, Roslyn Klaasen (verslaggewer) en Maria Kerspay. foto:NOLAN VENTER


DIE Hoërskool Newtown op Fort Beaufort het onlangs besoek van ’n verslagspan van eTV se Nuusdagom8 ontvang.

Tonele wat geskiet is, is op dié kanaal se hoofnuusbulletin van dieselfde aand uitgesaai. By hierdie sukkelskool het slegs twee uit 53 matriekkandidate verlede jaar se matriekeksamen geslaag.

Dit was maar die skool se tweede groep matrikulante sedert dit in 2015 in die Newtown-woonbuurt se gemeenskapsaal begin is.

In 2017 het drie uit die skool se 17 kandidate die paal gehaal. Ontevrede ouers wat die skool se swak slaagsyfer vierkantig voor die deur van die onderwysdepartement lê, het twee weke gelede gedreig om die skool te sluit.

“Sedert daar in September 2016 vyf opslaanklaskamers vir ons kinders opgerig is, het niks verder gebeur nie,” het een ontstoke ouer wat by die skool kom betoog het, gesê.

Die verslagspan het onderhoude met onder andere die skoolhoof, Marjorie Fester, die skoolbeheerraadvoorsitter Lorraine Kani, munisipale raadslid Elten Bantam, asook met Craig Fester, skoolhoof van die naburige Newton Junior Primêre Skool gevoer. Drie leerlinge is ook in hul klaskamers oor toestande by die skool uitgevra.

Die skool se leerlingtal het sedert die oprigting van die mobiele eenhede meer as verdubbel en ná twee jaar sit die skool steeds sonder elektrisiteit, water en toilette. Leerlinge en leerkragte moet ge-riewe van die aangrensende Newton Junior Sekondêre Skool deel en dit op sigself veroorsaak dissiplinêre probleme vir albei skole.

Fester en Kani het aan Nuusdagom8 gesê hulle is raadop met die Amatola Wes-distrik, sowel as die onderwysdepartement.

“As ons na hulle toe gaan val hulle kamstig rond op hul fone en belowe om die skool te besoek, maar daar gebeur net niks. Hoe lank moet ons kinders nog onder hierdie toestande skoolgaan?” wou ’n moedelose Kani weet.

Mid-Karoo Express kan bevestig dat daar tot 70 leerlinge in ’n enkele klaskamer is. Met die huidige hoë temperature is toestande binne die klaskamers ondraaglik en daar is selfs nie beweegruimte vir die onderwysers tussen die banke nie.

Die algemene gevoel onder die ouers is dat die departement hul kinders van die begin af gefaal het. Verlede jaar moes die skool sonder ’n Afrikaanse onderwyser klaarkom. Eers vier weke voor die finale eksamen is ’n Afrikaanse leerkrag aan die skool ge-leen. Vir die hele jaar was daar ook nie ’n onderwyser vir geografie nie.

Die matrikulante het ook nie literatuurboeke gehad nie. Die distrik sit ook al twee jaar lank sonder ’n vakadviseur vir Afrikaans.

Ouers het twee weke gelede in hul getalle na die skool opgeruk en ’n vreedsame protesaksie gehou.

“Genoeg is genoeg,” het hulle telkens uit volle bors geskree.

Intussen het die departementele woordvoerder, Mali Mtima, by navraag gesê dat skole volgens ’n waglys opgerig word en dat hy geen kommentaar op Newtown se situasie kan lewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article