’n MOOI tuin is goeie medisyne en terapie vir ’n moeë siel, maar my tuin maak my siek.

Sy hou nie van my nie, want hier is haar instink om ’n wildernis te wees. My versugting: as ek maar net groen goed in my tuin kan kry soos dié op my ou brood.

’n Mooi tuin en blomme verlei my maklik. So gaan ons spesiaal mev. Butchart se wêreldberoemde tuine in Vancouver, Kanada, besoek. Verstomming en verbasing verlam my toe ek sien hoe hierdie vrou verskillende soorte tuine in ’n ou, uitgewerkte gruisgat uitgelê het. Lowergroen en lappe op lappe kleur. Monet het gesê dat blomme hom geïnspireer het om te begin skilder. Begeesterd deur hierdie fantasieskepping oortuig ek myself dus om my tuintjie in ’n palet van kleur te kom omskep. Kan nie te moeilik wees nie; myne is Karoogrond – nie ’n gruisgat nie!

Ywerig soos sywurms op ’n moerbeiblaar bespring ek dus my posseëltjie. “Baie kleur”, fluister Monet. “Begin klein,” spoor my man aan. Met nuwe hoop en hogere aspirasies roep ek vir Moos, my tuinwerker, nader.

Ek beoog om hom stap-vir-stap te lei, want sy “groen vingers” (sy woorde, nie myne nie) ten spyt, is daar nooit eers genoeg blomblare om ’n prentjie van gedroogde blomblare te plak nie. Hy raak ook van meer plante ontslae as van onkruid. Lei soms hopeloos te veel water sodat die arme erdwurms in waterstewels moet rondspring. Vra ek moet “slaappille” vir die slakke koop.

Hier is ’n ferm hand nodig; dinge gaan nou verander, besluit ek. Ek sal hom die Tien Gebooie van tuinmaak mooi leer.

Tuine het genoeg water nodig; veral in die vorm van sweet. Dus werk ons sing-sing en sweet-sweet saam; dit spit, werk kompos in en maak die grond gelyk. “Waar kan ons riete kry, Moos?” Getrou aan sy aard bring hy ’n dag of wat later ’n kruiwa vol aan.

Saam-saam maak ons die riete agter in die langwerpige akkertjie staan. Hy maak die gaatjies voor die riete en ek gooi die pronkertjiesaad in en dek dit liefderik toe. Alles verloop flink en soos die Tuinboek tipeer. Wat jy saai, sal jy maai . . .

Moeder Natuur doen haar ding en gou groei die saadjies geil. Ek speel blomfluisteraar en praat met die plantjies. In my geestesoog skiet hulle al klaar teen die riete uit en blom soet en baldadig. “Moos, kyk hierdie plat onkruide hier voor wat soos oopgesperde seekatte lyk; jy moet ’n plan maak, hoor?” Onkruid het die eienaardige vermoë om meesterlik te oorleef. Ons sal moet sterk staan teen die peste en plae van Farao. Hier mag ook nie ’n gogga verby D&M se sekuriteit kom nie; hierdie duet mag nie vals word nie.

’n Dag of wat later dwaal ek na “ons” akker toe. Tot stilstuipe geskok staar ek. Net die ry kaal riete staar my meewarig aan. “Ons” eens belowende akker lê braak; so kaal soos Nataniël se kop, want Moos hét toe “’n plan” gemaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article