Cradock se gewilde True Living eetplek het verskuif na Albertstraat, langs die historiese Albert House (voorheen bekend as Cumnor House, circa 1840) wat oornaggeriewe bied.
Volgens Lani Lombard, die eienaar, was die restaurant vir tien jaar in Calatastraat, maar nadat hulle Albert House gekoop het, is besluit om die restaurant aangrensend tot hul woonhuis en bed-en-ontbyt onderneming in te rig.
“Die ou plek was ’n aangepaste huis. Nou voel dit vir my soos in die hemel,” het Lani opgewonde vertel.
Met die instapslag by True Living and Old Karoo Deli, is ’n mens dadelik bewus van die gesellige ruimte terwyl die aroma van koffie wat brou, die lug vul.
“Die spyskaart het bietjie verander en is veral gemik op die haastige deurreisigers. Ons konsentreer nou meer op ons bakkery-afdeling en voorsien grab & go pakkies.
“Om kraakvars roosterkoek, ciabatta- en briochebrood, (soet en lekker) skons, quiches en pasteie te lewer, gaan ons ons oondkapasiteit verdubbel deur minder op ’n slag, maar meer kere op ’n dag te bak,” sê Lani.
True Living and Old Karoo Deli gaan voortaan ook saans oop wees waar ’n mens die bredie van die dag kan geniet. Hulle is ook nou Sondae in die oggend oop en bied spesiale Sondag-middagetes aan.



