’n VRAGMOTOR het Saterdagoggend omstreeks 05:00 vir inwoners van KwaNonzame en Lusaka ’n aangename verrassing “afgelewer” toe ’n sleepwa omgeval het en honderde bottels drank oor die N9 tussen die twee woonbuurte gesaai gelê het.
Die polisie is na die toneel ontbied, maar min van die bottels wat behoue gebly het, is op die toneel teruggevind. Mokgadi Tloome, mede-eienaar van The Road-padstal voor wie se perseel die ongeluk gebeur het, sê die bestuurder van die vragmotor het aan hom vertel dat die sleepwa se seil reeds in Cradock geskeur het, en dat die vrag moontlik daarom geskuif het.
Dié betrokke draai op die N9 is ’n berugte kopseer vir nooddienste, aangesien vragmotorbestuurders gereeld nalaat om hier voldoende spoed te verminder. Dit is nie bekend hoeveel drank deur plunderaars buitgemaak is nie.


