MET dié dat die dokters op Graaff-Reinet in die Karoo begin aftree, hoop een van die distrik se top-matriekpresteerders om ná haar studies as ’n dokter terug te keer en haar kennis in haar gemeenskap terug te ploeg.
Dié planne van Caitlin du Preez, matrikulant van die Hoër Volkskool op die dorp, kan nou bewaarheid word nadat sy verlede Woensdagaand as die tweede beste presterende matrikulant in die Sarah Baartman-distrik aangewys is.
Ook die top-matrikulant in dié distrik, Pierre van der Merwe, het sy matriekjaar aan die Hoër Volkskool voltooi. Volgens Theo Dorfling, die skoolhoof, is dit die eerste keer in minstens tien jaar dat sy skool die beste matrikulant in die distrik oplewer.
“Ons het al voorheen top-leerlinge in die distrik gehad, maar dit was net een. Dit is die eerste keer, wat ek kan ont-hou, dat ons nommer een én twee in die distrik oplewer.”
Met sy glimlag van oor tot oor het Dorfling gesukkel om sy vreugde oor die prestasie te verbloem.
“Dit is nie altyd maklik nie. Ons het natuurlik ons eie uitdagings, dan maak aande soos vanaand dit die moeite werd,” het hy op ’n geleentheid vir die Oos-Kaapse top-matrikulante in Oos-Londen gesê.
Volgens Caitlin is die matriekjaar vol uitdagings, maar kan sy danksy ’n kleiner matriekklas op dié plattelandse dorp sonder moeite meer aandag van ’n onderwyser vra. Sy hoop haar punte is goed genoeg om vanjaar medies te studeer, waarna sy na die Karoodorp sal terugkeer waar die bestaande medici volgens haar nou kort op mekaar begin aftree.
“Ek wil net mense help, ek hou van biologie, so dit is sommer twee vlieë met een klap,” skerts sy.
Pierre sê hy is onseker of hy ná sy aktuariële studies weer na die Karoo sal terugkeer.
“Ek dink ek sal moet gaan waar die werk is.”
Hy het sy ouers, onderwysers en die skool geprys vir die rol wat hulle ge-speel sodat hy sy matriekjaar op die hoogtepunt as top-matrikulant kon af-sluit.


