Ná maande se beplanning en harde werk het Graaff-Reinet die afgelope naweek ’n pragtige, nuwe toeristebestemming ryker geword.
The Village, ’n outentieke replika van ’n klein sinkdorpie propvol oudhede, het Saterdag, 2 Maart uiteindelik sy deure oopgegooi.
Dié padstal, by Kollegeweg 38, is geleë regoor die Recollection Rides-veteraanmotormuseum, en was Saterdag stampvol nuuskieriges (en hongeriges) wat al maande lank uitsien na dié openingsdag.
Eienaar Hannes van Jaarsveld het vertel dat liefhebbers van veteraanmotors wat deur die Oos-Kaap reis, dikwels vooraf hulle bel om seker te maak dat die Recollection Rides-motormuseum oop is.
“Hulle ry spesiaal deur Graaff-Reinet om die museum te besoek, en omdat hulle dan gewoonlik verder moet reis, het dit net sin gemaak om ook ’n eetplek hier te hê waar hulle gou ’n ietsie vir die langpad kan aankoop,” het Van Jaarsveld bygevoeg.
The Village bestaan uit ’n selfhelp-eetsalon, outydse fietswinkel, insleepmotorhawe, vulstasie en Ouma’s Country Store. Sentimentele siele sal hul verlustig in die nostalgie wat ’n besoek aan The Village by ’n mens oproep.
Harley’s Lounge is gegrond op die konsep van ’n selfhelp-eetsalon: plaas jou bestelling in die lounge en neem die bewys na die polkadot-woonwa, waar jou naam dan uitgeroep word sodra dit gereed is.
Die spyskaart beloof ’n besonders interessante verskeidenheid burgers, worsbroodjies, skyfies, nachos, en selfs macaroni-en-kaas, waarvoor kleingoed selde nee sê.
Van kinders gepraat: The Village is die ideale plek om ’n kinderpartytjie te hou, en spog met ’n reuse-sandput, rondomtalie en klimraam.
Ouma’s Country Store herinner aan die destydse algemene handelaar van ’n dorp: hier kry jy outydse lekkers en koekies, legkaarte, deli-produkte, leerhoede en -gordels, blikbekers, gehekelde komberse en versnaperinge vir die langpad.
Toegang is gratis, en as bonus kan die vertoonlokaal met motors uit die 1940’s en 1950’s gratis besigtig word.
- Om die Recollection Rides-motormuseum se kosbare veteraanmotorversameling oorkant die pad te besigtig, kos R30 vir volwassenes en R20 vir kinders onder die ouderdom van 14.



