Andrew Wessels is ’n skrale 10 jaar oud, maar die sportmedaljes hang swaar om sy nek. Foto: VERSKAF


’n LEERDER van die Laerskool Fort Beaufort wat maar onlangs sy tiende verjaardag gevier het, spog reeds op dié jong ouderdom met ’n magdom medaljes en titels agter sy naam.

Jong Andrew Wessels, wat tans in graad 4 is, het reeds die respek van sy trotse ouers, onderwysers, skoolmaats en ander sportgeesdriftiges gewen.

Alhoewel hy maar nog kaalvoet op rugbyvelde en atletiekbane aantree, mag ’n mens maar sê dat hy met rugby-stewels en spykerskoene in die hande gebore is. Want nie net is hy ’n kookwater rugbyspeler nie, maar hardloop hy ook atletiekbane aan die brand. Boonop is hy ook ’n kranige krieketspeler.

Met Mid-Karoo Express se besoek by sy huis die afgelope Saterdag in die Newtown-woonbuurt, was hy juis in Komani (Queenstown) waar hy op die rugbyveld vir sy skool uitgedraf het.

Sy moeder Lauren Wessels het ’n skoolverslag met al sy prestasies aan Express gewys. Daaruit blyk dit dat sy sport glad nie sy akademiese werk nadelig beïnvloed nie. Sy skoolvordering en dissipline word in die verslag as uitstekend uitgebeeld en hy toon ook sterk leiers-eienskappe in sy klas.

Hy speel reeds sedert 2016 rugby vir sy skool en alhoewel hy maar verlede week eers tien geword het, is hy tans die skool se voorste driedrukker in 2019 vir die o.11 spannetjie.

In 2017 het hy hakskene vir sy teen-standers by die Cradock uitnodigings- atletiekbyeenkoms gewys in die 60m sowel as die 80m naellope en in albei wedlope goud ingepalm.

Vanjaar het hy op atletiekgebied verskeie medaljes, veral by die Oos-Kaapse kampioene-atletiekbyeenkomste, verower. In verspring en 100m vir seuns o.10 het hy die bronsmedalje gewen en goud in die 80m.

Sy hoogtepunt vanjaar is die nuwe Oos-Kaapse rekord wat hy in die 80m opgestel het toe hy dit in ’n blitsige 10,91sek. afgelê het. By die SA kam-pioenskappe op Germiston was hy vierde in die 80m finaal en het hy in verspring die 8ste plek behaal.

Luidens klein Andrew se grootouers, Freddie en Dianne Wessels, is hulle baie trots op hul kleinkind se prestasie. Volgens Freddie gee hulle hul kleinkind al die ondersteuning wat hy nodig het.

“Ons mis nie ’n enkele byeenkoms waaraan hy deelneem nie en volg sy vordering oor die ganse land heen. Ons glo dat hy dit nog ver in sport gaan bring en ons sal altyd daar wees met die nodige ondersteuning,” het sy trotse oupa gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article