Hierdie inter-skakel vragmotor van Grain Carriers het vir 12 ure die roete oor die R391 Doornhoekpas versper nadat dit in modderige toestande van die pad gegly en in ‘n diep sloot langs die pad tot stilstand gekom het. Die publiek word gemaan om nie die pas aan te pak in reënweer nie. foto:TERESA OPPERMAN

MET die onlangse swaar reën oor die Groot Doornhoekpas tussen Hofmeyr en Molteno, was die R391 baie glad en het ’n 36 ton vragmotor daar vasgeval.

Die bestuurder van ’n inter-skakel vragmotor van Grain Carriers, met 36 ton graan vanaf die Kaap, het besluit om kort na die hewige reënbuie dié roete oor die Groot Doornhoekpas te neem.

Die roete is vinniger om by sy bestemming in Ugie uit te kom.

In goeie weer en op ’n droeë pad, sou hierdie ‘n gawe plan wees. Maar ongelukkig het hy nie kennis gedra van die toestand van die pad en veral die pas, na die reën nie.

Die swaarvoertuig het net na 12:00 op Woensdag (26 Februarie) die pas, vanaf Hofmeyr se kant ingery. Dit nadat hy reeds deur vele moeilike driwwe en swak dele op die R391-pad met moeite gery het.

Driekwart teen die pas op, sowat 7km vanaf die naaste bewoonde plaas, het die swaarvragmotor egter van die ryvlak gegly.

Die swaarvoertuig het in die diep afloopvoor langs die pad tot stilstand gekom.

Daar was geen manier waarop hierdie trok weer op die ryvlak kon kom nie.

Boere vanuit die omgewing het tot sy redding gekom en planne beraam om die swaar vrag, wat teen ’n moeilike hoek in die sloot gegly het, weer op die pad te kry.

Boonop het die swaarvragmotor, wat dwars oor die pad gestaan het, die roete oor die pas versper.

Alle planne wat die boere probeer toepas het, was sonder sukses omdat die vrag bloot te swaar was. Geen van die boere se voertuie het ge-noeg trekkrag gehad om die kosbare vrag graan, op ’n moddergladde pad, weer terug op die ryvlak te trek nie.

‘n Ysige koue nag en nog reën later die middag en deur die nag, het die reddingspoging ook bemoeilik. Maar teen 01:00 die nag, na ure se gesukkel, is daar uiteindelik daarin geslaag om die swaarvragmotor weer op koers te kry.

  • Die publiek word gemaan om nie die R391-pad en pas in nat weer aan te pak nie. Veral nie swaarvoertuie of persone wat onbekend is met die omstandighede op die roete nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article