DIE teenwoordigheid van ’n strandjut (bruin-hiëna) in die Kamdeboo Nasionale Park buite Graaff-Reinet is fotografies bewys.
Volgens Fayroush Ludick, streeksbestuurder van kommunikasie vir SANParke, is hierdie besonderse dier op kameras van SnapshotSafari Suid-Afrika vasgevang.
Die standjut is nie net op een, maar op twee kameras vasgevang, maar blyk dieselfde dier te wees.
Strandjutte skuil gedurende die dag in dig beboste gebiede of afgeleë gate. Hulle leef in klein familiegroepe saam met hul kleintjies of selfs in groepe van verskeie volwasse manlike en vroulike diere.
Die foto’s is op 2 April om 21:11 en ’n week later op 10 April om 02:13 vasgelê.
Dit is die eerste keer dat ’n strandjut in die Kamdeboo Nasionale Park gewaar word, alhoewel die diere wel in die nabygeleë Bergkwagga Nasionale Park naby Cradock voorkom.
Strandjutte is byna uitgewis aangesien hulle karnivore is wat ’n aasvreterleefstyl handhaaf deur op die karkasse van groter diere, wat deur ander diere doodgemaak is, te leef.
Verskeie navorsers oor hiënagroepe is baie opgewonde oor die bestaan van ’n strandjut in Kamdeboo, aangesien hulle besig is om rooilyste en ’n plan van aksie oor die voortbestaan van hierdie diersoort op te stel.
Daar is meer inligting oor die Snapshot Safariprojek by www.zooniverse.org/projects/shuebner729/snapshot-camdeboo beskikbaar.


