MY liewe Moeder
Ek glo hierdie brief vind u in goeie welstand.
Die middernag nagmaaldiens was amper ’n groot teleurstelling. En dit omdat die muise besig is om die binnewerke van die kerk se orrel op te vreet.
Gister kon ek geen geluid uit die orrel se blaasbalk kry nie. My hart het amper gaan staan, want hoe kan ons ’n nagmaaldiens sonder musiek hou? En wat sou my getroue gemeentelede sê as ons die tradisionele kersliedere met kitaarbegeleiding sing?
Ek was baie hartseer en moedeloos, maar besluit toe om ’n nuwe lied te probeer skryf. Ek het my veerpen opgeneem, en Moeder, hier het iemand anders se hand my gelei en ek het met die kinderlikste, simpele woorde ’n kerslied neergeskryf.
Ek kon nie glo wat ek op die papier sien nie, want dit was asof hierdie woorde reguit van die hemel kom.
“Stille Nacht, Heilige Nacht . . .”
My gemoed was hoogs verlig en ek het geweet dat daar net een persoon was wat my sou kon help om die musiek te skrywe. Daarom het ek my onverwyld na Arnsdorf gehaas.
Gelukkig was Franz Gruber, my goeie vriend, orrelis en koormeester aan’t huise en hy het belowe om sy bes te doen voor sy klavier. Hy het die musiek geskryf vir twee basstemme, koor en kitaar. Deur net drie basiese harmonieë te gebruik, tower hy ’n eenvoudige stemmingsvolle en betowerende melodie op.
Moeder, om na hierdie lied te luister, is asof jy weggevoer word na ’n stille plek waar jy musieknote hoor wat so suiwer is soos die water uit ’n koele Alpestroom.
Franz en ek het die lied met kitaarbegeleiding vir die gemeente gesing en die koor het ingeval en saamgesing aan die eenvoudige kerslied.
Aldus, van ’n Kerskrisis tot ’n Kerstriomf.
Die heiligste van heilige nagte was toe vir die hele gemeente ’n besonderse ervaring. Ek wens u kon daar wees om die stemme en die musiek te hoor.
Vreugde en vrede vir u Moeder.
U liefhebbende seun
Joseph
So eenvoudig en nederig word die beroemdste van al die Kersliedere in die eenvoudige St Nicholas-kerkie gebore toe die jonge, Roomse priester, Joseph Mohr, die woorde uit nood neerpen, en amper het die wonderskone lied ook net daar gesterwe.
Jare ná hierdie lied die lig gesien het, doen die meester orrelbouer, Carl Mauracher, sy rondte by St Nicholas en hy bekom die lied by Franz Gruber. Hy deel dit op sy beurt met twee rondreisende Tiroolse volksangerfamilies (soortgelyk aan die Von Trapp-sangers) naamlik die Strassers en die Rainers.
Hulle verander ’n paar note en sing dit vir die eerste keer as ’n Tiroolse volksliedjie in hul repertoire in Leipzig in 1832.
In 1839 tree hulle voor ’n gehoor in die Alexander Hamilton-monument buite die Trinity Kerk in New York op en so word die lied ook in Amerika bekendgestel.
In Europa word dit die eerste keer in 1840 gehoor toe die koor van die Koninklike Katedraal dit in Berlyn, Duitsland, bekend gemaak het. Koning Frederick Willem IV van Pruise hoor dit, ag dit as sy gunsteling Kerslied en versoek dat die koor dit elke jaar vir hom gedurende die Kersseisoen moet sing.
Dit neem ’n hele paar jaar voordat “Stille Nacht, Heilige Nacht” dwarsdeur Europa en verder versprei.
Teen hierdie tyd is Mohr en Gruber reeds oorlede en net die naam van die skrywer bekend, maar nie dié van die komponis nie.
Daar word wyd bespiegel dat dit moontlik Haydn, Mozart of selfs Beethoven se briljantheid is. Die “geheim” is eers in die twintigste eeu opgelos toe die oorspronlike dokument van Mohr se woorde as geldig bekragtig is, want in sy handskrif regs bo-aan die bladsy het hy geskryf: “Melodie van Fr. Xav. Gruber”.
In Oostenryk is daar talle plekke wat histories met die lied verbind word en wat intussen toeriste-aantreklikhede geword het waar duisende liefhebbers van die lied gaan om die “wonder” van “Stille Nacht, Heilige Nacht” se ontstaan te probeer inadem.
’n Gedeelte van die “wonderwerk” is dat die woorde deur ’n beskeie priester geskryf en die musiek deur ’n onbekende musikant gekomponeer is.
In 2011 verklaar UNESCO hierdie wonderskone lied as ’n ontasbare kulturele erfenis.
Om die 200-jarige bestaan van “Stille Nag, Heilige Nag” te gedenk, word dwarsdeur 2018 tot in 2019 in Oostenryk trots fees gevier deur middel van musikale opvoerings, uitstallings, kersmarkte, konserte en baie meer.
’n Groot eer vir hierdie twee siele, ’n godsdienstige en kunssinnige se talente wat vernuftig saamgevloei het om ’n geniale meesterstuk te skep wat vandag steeds reg oor die wêreld as die wonderskoonste Kers- en vredeslied geag word.

