Betogers versper die R56-pad met klippe.


BETOGERS buite Steynsburg het die R56-deurgangspad vanaf Burgersdorp en Molteno na Middelburg en Cradock erg beskadig

Dit is nadat hulle klippe in die pad gepak het sowel as motorbande en boomstompe wat aan die brand ge-steek is. Talle motors en vragmotors is ook beskadig deur betogers wat die voertuie met klippe bestook het.

Die ongelukkigheid wat die betoging voorafgegaan het, handel hoofsaaklik oor die inwoners se ontevredenheid met die werksaamhede van die plaaslike Joe Gqabi Munisipaliteit, wat resorteer onder die Gariep munisipale streek.

Swak dienslewering, kragonderbrekings, asook ’n tekort aan werksgeleenthede het getel as deel van die lys klagtes wat aanleiding gegee het tot die betogings.

Die R391 grondpad is tydelik gebruik as ompad, wat vir reisigers ’n 15km draai beteken het. Die R391-pad is boonop onder konstruksie en dus gevul met gruishope en padwerkmasjinerie is oral werksaam.

Die pad word hergruis en talle luukse voertuie moes teen ’n slakkepas ry om uiteindelik in Hofmeyr te gaan draai voordat hulle hul reise kon voortsit. Padgebruikers het ongelukkig ook skade aan bande opgedoen, aangesien die padrollers op die grondpad nog besig is om die growwe gruis-klippers stukkend te rol sodat die finale bolaag gegooi kan word.

Die betogings het Vrydagaand opgehou, maar groot skade is aan die teeroppervlak van die R56-pad aangerig as gevolg van die brandende buitebande. Dié brande het gate in die teerpad gelaat en padgebruikers word gewaarsku om versigtig te ry.

Die plaaslike polisie sowel as versterkings vanaf omliggende dorpe het deurgaans die situasie gemonitor en verkeer herlei soos nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article