Foto: Argief

Sprinkane wat al ‘n geruime tyd verwoesting
in die Middelburg-distrik aangerig het, het nou ook in die Cradock-distrik aangekom.

Volgens Hilton Collett, voorsitter van
Cradock-distrikslandbou-unie, is swerms sprinkane hoofsaaklik nog in die Samenkoms- en Agtersneeubergareas aktief en het die teen-sprinkaan aksiespanne al
vir vyf nagte in daardie gebied gespuit.

Collett sê die swerms is nogal groot
en terwyl voetgangers bedags bestry kan
word, kan die spuitspanne net snags die vlieërs bestry wanneer die swerm vir die nag gaan sit het. Hy sê dit is ‘n reuse taak en die manne met
die spuite kom snags eers tussen 01:00 en 02:00 en sommige nagte eers teen
04:00 weer tuis. 

Gifstowwe word deur die Departement van
Landbou voorsien, maar die manne wat spuit is boere uit die distrik wat die
werk self doen. “Gelukkig werk die boere op wie se plase hulle moet spuit, baie
goed saam.  Jy kan jou voorstel hoe
moeilik dit sal wees as die boere nie saamwerk nie en die spuitspan alleen in
die donker op ‘n vreemde plaas moet gaan soek om ‘n swerm op die grond te kry,” het Collett verduidelik.

Collett het ook sy kommer uitgespreek oor
die feit dat hierdie sprinkane eiers lê sover as wat hulle gaan en dat hierdie
eiers tydens die eerste lentereën ná die winter sal uitbroei.

“Daar is niks vir die diere oor op die grond
waar so ‘n swerm deur is nie,” het hy bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article