ALAN en Marga Cumming, Middelburg se Springbok-hamergooi-atlete, het vanaf 3 tot 14 Julie aan die 30ste Somer Universiade (Studente Wêreld Spele) in Napoli, Italië gaan deelneem.
Studente van regoor die wêreld het daarheen gestroom om aan 18 verskillende sporte, onder andere atletiek, judo en rugby, te gaan deelneem.
Tydens hierdie byeenkoms het Alan die agtste plek in die finaal behaal, terwyl Marga 11de geëindig het. Marga het ook haar persoonlike beste afstand van 61.39m gegooi.
Op 15 Julie het ’n opgewonde Marga vanaf die Capri Eilande in die Terreense See laat weet dat sy baie trots is op die afstand wat sy behaal het.
Tydens hierdie kampioenskappe het die atlete op die Costa Victoria-passasiersboot in die Terreense See gebly en daagliks aan wal gegaan om na die byeenkoms te gaan.
Alan en Marga was albei leerders aan die Hoërskool Middelburg en is hulle vir Middies se hamergooiers ’n groot inspirasie. Alan was ook een van die rolspelers in die beplanning van die nuwe buitelug gimnasium wat onlangs by Middies opgerig is.
Weens die nuwe besproeiingstelsel op die Hoërskool Middelburg se rugbyveld, moes die skool se hamergooi sirkel en nette op die terrein onlangs verskuif word.
Danksy die ruim bydraes van Deon Strampe, Louis Wilken, Willem Olivier, Joe Bishop, Eben du Plessis, Petrus Wolfaardt, Dies van der Walt, Jako Meyer en Gretha Snyman is ’n splinternuwe hamergooi area en -hok op die skoolterrein gebou.
Die skool bedank graag die borge asook spesiaal vir Joe Bishop vir sy vakmanskap en etlike ure se werk met die oprigting van die nuwe hamergooi-area.




