BAIE dikwels wonder ek hoeveel mense nog soos van ouds hul huise ’n behoorlike van-hoek-tot-kant-skoonmaak gee? In my kinderdae was dit by elke huis tweede natuur.
Veral oor die Pase en dan natuurlik ook net voor Kersfees. Dis dán dat verestoffers, besems, verfkwaste en stoflappe oortyd gewerk het.
By ons huisie in my geboortedorp was Ouma altyd aan die spits van sake. Ek glo vandag nog dat niemand ’n huis kon “uitturn” soos juis sý dit kon doen nie. Hier kort voor Kersfees is almal douvoordag opgekommandeer en moes al wat meubelstuk was buite toe karwei word. Teen daardie tyd het Ouma se beesmisemmertjie lankal gereed gestaan.
Ek sien vandag nog hoe sy op haar knieë ons huisie se vloere met sulke ritmiese armswaaie ’n “facelift” vir die feestyd gee. Terwyl sy daarmee besig was, was dit ons kinders se taak om die mielieblaarmatrasse los te ryg en met nuwe blare vol te stop. Voor dit terug in die huis gedra is, het ons laaities eers ’n paar lekker skaterlag bolmakiesies daarop gegooi.
Dan was dit vensters was en meubelstukke met furnigloss-meubelpolitoer blink poets. My geliefkoosde taak was om met ’n tandjiesskêr die papiere vir die kaste se rakkies uit te knip. Selfs ons getroue houtstoof is blinklyf met Zebo gepoets.
Met ons huis aan die binnekant netjies getooi het die buitekant aan die beurt gekom. Met ’n mengsel van blindemiershoop en beesmis wat Oupa met ons donkiekarretjie aangery het, is ons huis ter voorbereiding vir Kersfees gepleister. Ritmies en liefderyk het Ouma dit gedoen – nes ’n ma haar baba na ’n lekker bad uitsmeer. Sodra die mure droog was is dit spierwit gekalk en het Ouma die stoepe met bloedrooi Cobra stoeppolitoer skoongepoets. Die deure was altyd donkergroen geverf. Wanneer ek dan ons huisie van ’n afstand betrag, het dit tog té mooi gelyk. Kompleet nes die sprokiesagtige sneeubedekte huisies in die hartjie van die Winter doer ver in die Switserse Alpe.
Kersfees is ook ’n tyd vir ons om “spring cleaning” te doen. Diep binne ons borskas – die reiniging van die menslike hart.
Dis dáár waar die spinnerakke van die afgelope jaar ’n wurgende web vorm en die hartklop versmoor. Dinge wat hier te veel is om op te noem en ons harte daarvan weerhou om warm te klop.
Dis noú die tyd om daarvan voorraadopname te doen en dit met wortel en tak uit te roei. Tot so ’n mate dat hierdie vir ons almal ’n betekenisvolle Kersfees kan wees en ons die nuwe jaar met ’n skoon en rein gewete kan verwelkom.
Geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar aan almal.



