TWEE spiertiere van Cradock het die dorp se naam hoog gehou by ’n liggaamsbou-kompetisie in Kaapstad.
Sakeman Richard “Cassie” Carstens en onderwyser Amy van Jaarsveld het die afdelings waarin hulle onderskeidelik deelgeneem het gewen.
Cassie kom oorspronklik van De Aar af en vertel dat hy daar tydens sy skooljare aan atletiek en rugby deelgeneem het, maar na twee knie-operasies is sy deelname aan dié sportsoorte gestop.
“In my matriekjaar het ek begin met liggaamsbou. Maar ek het eers in 2019 ernstig begin oefen en ’n persoonlike afrigter gekry,” sê Cassie, wat sy eie besigheid op die dorp bedryf.
In 2020 het COVID-19 egter vir Cassie platgetrek en hy was vir twee weke in die hospitaal op suurstof. Gevolglik het hy 12kg verloor en hy was baie swak.
“Niemand het gedink ek sal ooit weer aan liggaamsbou kan deelneem nie, maar ek was vasbeslote om van voor af te begin oefen.
“Met my gewig van 74kg was ek die ligste van al die deelne-mers. Ek het in die o.80kg afdeling deelgeneem.
“My fiksheid, kondisie en die manier waarop ek my liggaam vertoon het, het my dié trofee laat wen,” sê Cassie.
Van Jaarsveld het in 2017 met liggaamsbou begin en reeds in 2018 die een na die ander kompe-tisie gewen. Sy is ’n dubbele SA kampioen en sou verlede jaar aan die wêreldkampioenskappe in Engeland gaan deelneem, maar weens COVID-19 kon die kampioenskappe nie aangebied word nie.
Buiten liggaamsbou ry Van Jaarsveld graag fiets en is sy ’n kranige netbalspeler. Van be-roep is sy ’n wiskunde en lewensoriënteringsonderwyser by die Carinus Laerskool op Cradock.




