OUD-MIDDELBUGER Sonja de Beer is nie om dowe neute gekies as een van die onthou- kokke in die nuwe reeks van Kokkedoor wat volgende Donderdag op kykNET uitgesaai word nie.
Dié voormalige huishoudkunde-onderwyseres bied kook-lesse aan, besit haar eie produktereeks Sonja’s Foods en het ’n kookboek, Kom Kuier Om My Tafel, gepubliseer. Sy deel dié lekker resep met Mid-Karoo Express se lesers:
Sonja se gebakte sitrus met amandel en kaneelroom
Bestanddele:
Vir die vrugtemengsel
3 lemoene en
2 pomelo’s, geskil en in skyfies gesny, wit vliesies verwyder
4 nartjies, geskil, ontpit en skywe gehalveer
skil van 1 suurlemoen
1 koppie bruinsuiker
5 stukkies heel kaneel
1 blikkie kondensmelk
Vir die deegmengsel
1 koppie koekmeelblom
½ koppie bruinsuiker
200g sagte botter
200g gekapte amandels
1ml sout
1 koppie room, styf geklits
1 teelepel kaneel
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180°C
- Meng die lemoene, pomelo’s, nartjies, suurlemoenskil, een koppie bruinsuiker en kaneel saam
- Skep die vrugtemengsel in ’n gesmeerde oondbak
- Bedruip die vrugtemengsel met die kondensmelk
- Meng die koekmeelblom, suiker, botter, amandels en sout tot dit ’n krummeltekstuur vorm
- Strooi die deegmengsel oor die sitrusvrugte en bak vir 25-30 minute in die oond
- Meng die room en fyn kaneel met ‘n ballonklitser
- Skep lepelsvol van die room op die nagereg en siedaar!
(Lewer 8-10 porsies.)
Kom Kuier Om My Tafel kan bestel word by sonjasfoods@gmail.com en is ook beskikbaar by Karooroos Padstal net buite Middelburg op die N10 ná Cradock.




