DIE NG Kerk Somerset-Oos het onlangs ’n gesellige oggend vir die bejaardes van die dorp in die kerksaal aangebied.
’n Paar goeie kultuursnare is geprikkel toe die gaste deur plaaslike kunstenaars vermaak is. Sid Watson, die musiek en klankkoördineerder van die kerk, was verantwoordelik vir die samestelling van die genotvolle program.
Die geselligheid is deur Hansie du Plessis met gebed geopen. Hy het die gaste gou laat tuisvoel met ’n paar grappe en ’n mooi klaviersolo.
Watson het vir Douglas Argyle op die klavier begelei, terwyl hy ’n gepaste trompetnommer gelewer het. Marina Marais het op haar kenmerkende snaakse wyse ’n staaltjie vertel wat die gaste baie geniet het. Izak Murray het ’n paar nommers op die saag gespeel en hy het ook ’n sangnommer gelewer waar hy met sy jodeltalent verras het.
Wena Vermeulen en Marlene Lombard het elk ’n klaviersolo gelewer, met Hennie Lombard wat ’n paar sang-items gelewer het. Deon Bekker het die kitaar getokkel en saam met Watson ’n paar country-liedjies gesing.
Met die konsert agter die rug, was tee, koffie, koek en tert bedien. Alta Triegaardt en haar dogters het vir die voortreflike soetgoed gesorg.




