Jonker Nel het skitterend by sy skool se prysuitdeling gevaar.Foto:VERSKAF


TYDENS die onlangse prysuitdeling wat by William Oates Primêre Skool gehou is, het Jonker Nel weereens gewys waartoe hy in staat is.

Jonker het met nege diplomas weggestap. Hy het dwarsdeur sy graad 3-jaar ’n gemiddeld van 96% gehandhaaf. Hy het diplomas in Afrikaans Huistaal (99%), Engels Eerste Addisionele Taal (99%), isiXhosa (100%), wiskunde (98%) en lewensoriëntering (96%) ontvang.

Buiten sy akademiese prestasies het Jonker ook ’n dubbel goud toekenning vir sy gedig tydens die plaaslike Eistedfodd ontvang.

Jonker het by die WOW-spelfees se kringkompetisie ’n goue medalje gwen en silwer by die distrikkompetisie. Daarna het hy op provinsiale vlak deelgeneem waar hy en ’n brons en ’n balkie gekry het.

Na dié prestasies is hy na die WOW-spelfees se finale ronde by die Universiteit van Stellenbosch.

Die finale het oor 22 rondes beskik en Jonker het deurgedring tot die top vyf. Hier het hy die vierde plek behaal en is uiteindelik beloon met ’n welverdiende sertifikaat.

Jonker is die enigste graad 3 leerder van die Oos-Kaap wat vanjaar hierdie prestasie behaal het.

Daarby is hy ook die enigste leerder van Somerset-Oos wat in die finaal by die WOW-spelfees ’n plek behaal het.

Om Jonker in Stellenbosch te laat deelneem, moes sy ouers geld in- samel. Gelukkig was die Somerset-Oos-gemeenskap se hande en harte hiervoor oop. Die skool het ook ’n finansiële bydrae gemaak.

Jonker is van kleins af baie lief vir lees en dit is steeds een van sy geliefde stokperdjies. Hy lees enige iets wat hy sy hande kan op lê, van koerante, boeke tot tydskrifte.

Miranda Horne, sy klasonderwyseres, sê, “Dit is ’n plesier om Jonker in die klas te hê.

“Hy is passie-vol met sterk leierseienskappe en ’n uitblinker in alles wat hy aanpak.”

Die skoolhoof Isak du Plessis sê, “Die skool is baie trots op hom. Hy werk hard, is sterk op akademiese gebied en ’n presteerder wat beslis in die toekoms dopgehou moet word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article