DIE skokkende toename in plaasaanvalle landwyd raak almal in die land.

Plaasmoorde en -aanvalle is ernstige krisisse wat Suid-Afrika se ekonomie toenemend bedreig.

Volgens statistieke wat onlangs deur Afriforum beskikbaar gestel is, was daar ongeveer 184 aanvalle en 20 moorde tussen Januarie en Mei vanjaar in die land en hiervan was 16 aanvalle en drie moorde in die Wes-Kaap – twee keer meer as verlede jaar.

In Gauteng was 51 aanvalle, 28 in Noordwes, 27 in Limpopo, 21 in Mpumalanga, 11 in die Oos-Kaap, 17 in KZN, 13 in die Vrystaat en geen in die Noord-Kaap. Van hierdie 184 aanvalle was 113 op plaaswerkers.

Midkaroo Express het by die SAPD se a.o. Johan van Huyssteen aangeklop om te hoor hoe plaasveiligheid in die Somerset-Oos distrik benader en hanteer word. Hy is tans by die Middelwater satelliet-polisiestasie gestasioneer waar sy primêre taak plaasbeveiliging behels.

Hy is ook die landelike veiligheids-koördineerder van die Somerset-Oos polisiëringsgebied.

Tydens daaglikse plaaspatrollies word die boere- en werkers-gemeenskap besoek, en selfs na ure word daar gereeld sigbare patrollies op plaaslike paaie uitgevoer.

Met die huidige tekorte aan mannekrag en hulpbronne, bly dit egter die plig en verantwoordelikheid van elke persoon in die gemeenskap om sy eie veiligheid te verseker.

Noue samewerking tussen die polisie en die plaaslike gemeenskap be-vorder ook die veiligheid van almal in die gemeenskap.

Van Huysteen vertel dat alhoewel daar sprake was van die implemen-tering van ’n plaaswagstelsel, het dit nog nie ’n werklikheid geword nie. Hy noem dat hulle tans met ’n seku-riteitsmaatskappy onderhandel oor gevorderde beveiligingsmetodes vir plase asook die daarstelling van kameras op alle toegangspaaie.

“‘n Paar paar jaar gelede het die polisie elke plaas in die area op ’n databasis geplaas wat ’n aanduiding kon gee of die boere ’n kwesbare teiken sou wees en hoe die beveiligings- maatreëls op die plaas daarna sou uitsien. Plaasmense het groot geskrik toe hulle na aanleiding van die punte-stelsel besef hoe kwesbaar hulle werklik is. Ons beoog ’n soortgelyke projek in die Somerset-Oos area en is vol vertroue dat ons teen die einde van Augustus volstoom aan die gang sal wees hiermee.”

A.o. Van Huyssteen sê dat sommige lede van die plaasgemeenskap soms nalaat om paraat te wees en nie oor voldoende veiligheidsmaatreëls be-skik nie.

Hy gee die volgende voorstelle vir veiligheidsmaatreëls:

  • Plaasmense moet te alle tye paraat wees en daagliks inligting insa-mel oor vreemde mense, voertuie en bewegings in die omgewing. Plase wat geoormerk is vir ’n aanval, word gewoonlik lank voor die tyd dopgehou.
  • Stig plaaswagstelsels waar boere self patrollies doen en nóú met die polisie saamwerk.
  • Bring valhekke met kamera’s aan wat voertuigbewegings in en uit die gebied kan monitor.
  • Beveilig huise op die plaas na die beste van jou vermoë met bv. sterk diefwering.
  • Bring ’n veiligheidshek in die huise se gang aan sodat ’n deel van die huis ten volle veilig is, of maak een vertrek veilig. Hou voorraad soos water ens. in die vertrek sodat jy ’n geruime tyd kan oorleef.
  • Tref voorsorg vir behoorlike kommunikasiemiddels (radio’s en selfone) wat nie van Eskom vir krag afhanklik is nie. Ongelukkig kan kriminele deesdae seine blokeer met ’n spesiale toestel wat hulle saamdra.
  • Stel ’n aksieplan in werking sodat almal weet wat om te doen in ge-val van ’n aanval.
  • Bring spreiligte (sonkrag), strale en alarmstelsels aan.
  • Moenie na donker buite toe gaan nie, skakel eerder die polisie.
  • Vrouens moet, soos mans, leer om vuurwapens te hanteer vir hul eie veiligheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article