DAAR is gesê: Die enigste onmoontlike reis is die een wat jy nooit begin nie. Ons grootjies moes dit ook geglo het, want hulle is immers die Drakensberge kaalvoet óór, bietjie minder as 200 jaar gelede . . . sonder behoorlike tekkies met lugkussings en spesiaal rubbersole.
Vrouens wat lus voel vir ’n bietjie avontuur kan gerus oorweeg om aan die Sneeuberg powHER HIKE deel te neem wat van 17 tot 19 Mei naby Murraysburg sal plaasvind.
“Mans kan mos gaan jag en visvang en allerhande dinge doen om uitdagings vir hulself te stel,” sê organiseerder Vicky Pienaar.
“Ons vrouens het ook nodig om onsself uit te daag, om iets te hê waarvoor ons werk, en iets wat ons herinner aan die innerlike krag wat daar in elke vrou skuil. Dit het ons op die idee van ’n staptog spesiaal vir vroue gebring. Daar is beslis iets te sê vir die solidariteit tussen susters, en daar is net een ding sterker as ’n vrou se innerlike krag – die krag wat ons het as ons mekaar ondersteun.
“Die doel van die powHER HIKE is net dít: om vrouens ’n avontuur in die natuur te bied, weg van die normale roetine, saam met vriendinne wat ook maar die talle eise van die moderne samelewing elke dag moet trotseer. Dis jou kans om iets lekker vir jouself te doen!”
Wie kan inskryf?
As jy ’n vrou is en jy kan 5km stap sonder om te rus, is jy fiks genoeg vir die Sneeuberg powHER HIKE.
Wat behels die staptog?
Die staptog dek 50km oor twee dae, en word in vier skofte gestap. Jy kan kies of jy een aand in ’n tent in die populierbos wil slaap, of eerder net wil saamstap en eie akkommodasie reël, waarna jy weer by die groep kan aansluit vir die tweede dag se staptog.
Waar gaan sy nou?
Die staptog vind plaas op die plaas Rooipoort, 86km vanaf Graaff-Reinet op die Sneeubergpad en 27km buite Murraysburg.
Wat pak ek in die wakis?
Dis nie nodig om die heel nuutste staptoe-rusting te hê nie: goeie stapskoene, ’n waterbottel, hoed, en ’n dagrugsak met bietjie padkos sal jou ver bring.
Vir meer inligting
“Dames wat wil saamgaan, moet gou speel,” sê Vicky. “Ons het nog nie eens behoorlik geadverteer nie en het reeds heelwat reaksie ontvang!”
Kontak Vicky op 072 664 6656 of stuur ’n e-pos na vicky@rooipoort.co.za.


