MARIAAN Schoeman, eienaar en bestuurder van die Karoobos Padstal, het vertel dat die S.M.O.G-motorfietsklub met hul pragtige blink, swart motorfietse – waaronder ’n groot aantal Harley Davidsons – onlangs deur Hofmeyr gery het en by die padstal kom inkopies doen het.
Die hele Hofmeyr het behoorlik ge-dreun. Dit was gelukkig oor middagete en die padstal het vars pasteie en talle wegneemetes reg uit die oond gereed gehad, so niemand was dus honger terug in die saal nie.
Dit was dieselfde groep mense wat verlede jaar deur die dorp met hul Ferrari’s gery het. Dit op sigself het ook ’n opskudding in Hofmeyr veroorsaak en talle foto’s van die gebeurtenis is daarna op sosiale media geplaas.
Die S.M.O.G-groep het uit 15 motorfietse en driewielmotorfietse bestaan.
’n “Offroad” groep, Proudly Meerkat, het ook dieselfde dag deur Hofmeyr, op pad na die Gariepdam, gery.
Al dié verkeer het behoorlik ’n opskudding in die dorp veroorsaak!



