INWONERS van Graaff-Reinet was vroeër vandeesweek hoogs ontevrede met onverwagte kragonderbrekings wat laat Sondagoggend begin het en vir sommige inwoners en besighede tot 32 uur geduur het.

Nadat raadslid Samantha Graham verskeie navrae oor die onderbrekings ontvang het, het sy Sondagmiddag ’n kennisgewing op Facebook geplaas dat daar twee ondergrondse kabels en een oorhoofse geleier foutief is.

Teen Maandagoggend is elektrisiteit na sekere dele herstel nadat munisipale werkers deur die nag geswoeg het om die probleem op te los.

Daar was egter steeds twee foutiewe kabels, en die hulp van ’n spesialismaatskappy uit Port Elizabeth is ingeroep met die hoop dat hulle die herstelproses kon bespoedig.

Teen dié tyd het verskeie inwoners reeds op sosiale media gerapporteer dat elektriese toestelle soos ys- en vrieskaste gebreek het as gevolg van die kragonderbreking.

Meer as een restaurant-eienaar met wie Mid-Karoo Express kontak gemaak het, het gesê dat hulle verliese gely het as gevolg van die kragonderbreking.

“Ons moes melk, vis en calamari weggooi, en heelwat toeriste kon nie betaal nie, omdat die kaarttransaksiemasjien nie kon werk nie,” het een restaurant-eienaar gesê.

’n Ander restaurant moes ’n groot voorraad hoender weggooi omdat die yskas afgeloop het. “Ons versekering dek nie dié soort verlies nie, so dis geld wat ons nou maar net moet afskryf,” het die sjef van dié restaurant aan Mid-Karoo Express gesê.

Graham was vol lof vir munisipale werkers, die bestuurder van elektriese dienste, Tos van Zyl en die direkteur van ingenieurswerke en beplanning, Ivor Berrington.

“Ons moet hierdie individue regtig bedank vir hul ywer om hierdie krisis te hanteer. Hulle het vir amper 36 uur aaneen gewerk om kragtoevoer te herstel, en ons is baie gelukkig om sulke toegewyde individue in ons gemeenskap te hê.”

Die oorsaak van die gebreekte kabels en geleiers kon nie vasgestel word nie, en word toegeskryf aan gewone slytasie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article