DIE Jakes Gerwel-stigting en PEN Afrikaans het die heel eerste skrywersessie in die skrywerresidensie, Paulethuis, in Somerset-Oos onlangs suksesvol voltooi.
Die program word ook aangebied in samewerking met NB-uitgewers (tuiste van Tafelberg, Human & Rousseau, Kwêla, Queillerie, Lux Verbi en Pharos) met die doel om opkomende skrywers te ondersteun en hulle manuskripte vir publikasie gereed te kry.
Ná maande se beplanning en restourasiewerk het die skrywershuis sy deure oopgegooi en die eerste vier opkomende skrywers en twee mentors verwelkom.
Dié historiese huis, aan die voet van Boschberg met sy sjarmante ouwêreldheid, ruim kamers, houtvloere en lowergroen tuin, bied die ideale geleentheid vir skrywers om in ’n inspirerende omgewing aan hul manuskripte te werk.
Die ervare mentors was Francois Bloemhof en Suzette Kotze-Myburg en die skrywers Shana Fife, Bronwyn Davids, Sharon Mogoaneng en Engela Ovies.
Almal was dit eens dat hulle ’n inspirerende en suksesvolle eerste naweek geniet het waarvan harde werk, pret en goeie kos ’n deel uitgemaak het.
Baie is geleer en goeie bande is gebou. As beplanning reg verloop, kom hierdie groepie weer in Mei terug om verder aan hul boeke te slyp.
Theo Kemp, direkteur van die Gerwel-stigting, het gesê “Dit was ’n groot voorreg om die eerste groep skrywers te kon verwelkom. Om hulle in die huis te sien sit en werk op hul rekenaars, tot selfs laat in die nag, het my laat voel hier is iets aan die gebeur.
“Hier is jong, ywerige talent wat besig is om na die oppervlak te borrel.
“Ek is trots daarop dat die Jakes Gerwel-stigting vir sulke gretige woordsmitte so ’n pragtige huis, in so ’n rustige omgewing kan bied om kreatief te kan wees,” het Kemp gesê.



