“DIE local swingers club beplan Saterdag ’n fancy dress om die 1969-maanlanding te vier,” fluister my buurvrou, ant Sarie. “Swingers?” sê-vra ek, maar skielik gaan daar vir my lig op.

Natuurlik! Dis seker ’n vorm van groepterapie!

In hierdie era van ontnugtering verteen- woordig ’n swaai ongetwyfeld onskuld – ongekompliseerde ignorance-is-bliss. Skielik verstaan ek hoekom Spar én Usave se foelie op is – almal maak seker blink kostuums daarmee.

Ek hoop maar hulle maak eerder spacehelmets, want ’n foelierompie gaan vinnig skeur as mens skoppelmaai ry. Ant Sarie het my nie geantwoord toe ek vra of die swingers by die speelparkie in die bo-dorp bymekaarkom nie.

Dat mense nou wil partytjie hou oor die “maanlanding” slaan my egter dronk. Sien die aanhalingstekens? As ek nou wél genooi was na enige partytjie toe om die “maanlanding” te vier, sou ek poedelkaal gaan, net met aanhalingstekens getattoeëer op my skouers. Want as mense kan glo dat Amerika in 1969 die tegnologie gehad het om iemand maan toe te stuur, kan hulle hul maar net sowel verbeel dat ek my volronde 46-jarige lyf voldoende kan bedek met vier kort strepies op my skouers.

Mense hou natuurlik GLAD nie daarvan as jy hul hokke oor so iets skud nie.

“Natuurlik was Neil en Buzz op die maan!” sê oom Manie, ’n afgetrede windpompdokter.

“Bewys dit,” sê ek.

“Wel, in die eerste plek het ek dit met my eie ore gehoor oor die draadloos, ’n regstreekste uitsending van die maan af,” sê hy.

“Het oom al van George Orwell gehoor?” vra ek.

“Nee . . . is hy van Graaff-Reinet? Hier’s nie Orwells in óns dorp nie. Maar jy was nou-nou nog met die maan gepla, niggie, en ek het nóg bewyse. Mamma, waar’s ons albumpie?” vra hy vir tannie Bettie. Sy’s nog op en wakker vir haar 78 somers, en haal ’n roomkleurige album uit die eetkamerbuffet se onderste laai.

“Dis eintlik ons trou-album,” sê oom Manie, “maar in 1969, toe’s ons sewe jaar getroud. Ek het my Bettie op ons troudag belowe ek vat haar eendag Bettiesbaai toe. Toe, sewe jaar later, vat ek haar. Kyk, daar staan ons! Ons het daai jaar allerhande uitknipsels gebêre, om ons herdenking vir altyd te kan onthou. Kyk, dié’s die Huisgenoot se voorblad, 15 Augustus 1969: “Die Mens Op Die Maan – Neil Armstrong se ma vertel.”

Ek onderdruk ’n waansinnig laggie. “Dis die Huisgenoot, oom Manie!” wil ek gil. “Jy haal aan uit die Huisgenoot!” Maar ek sluk my rooibostee en bekyk die tannie se mooi troufoto’s.

“Ek het die tannie belowe ek gaan eendag vir haar ’n erf koop op einste Bettiesbaai,” sê die oom. “Maar ons spaar nog. Intussen is ons hêppie hier in Middelburg, né my bokkie?” lag die oom, en wikkel sowaar sy ruie wenkbroue op en af vir die tannie!

Ek drink my koppie leeg en vra die oom of hy al in Durban was. “Nee, kwit! Dis te ver!” sug hy, en mompel iets oor Transkei en beeste.

“Was oom al maan toe?” skoor ek.

“Hoe nou, niggie? Dis mos net Apollo se mense wat daar was,” lag hy.

“En Liewe Heksie,” dink ek, maar sê dan: “Ek dink die maan is baie nader as Durban, want mens kan hom ten minste sien hier van ons dorp af.” Die oom vryf sy ken, maar sê niks.

Ek staan op om te groet. “Tannie het nie dalk vir my so ’n halwe meter foelie nie?” vra ek. “Ek wil môre vleispastei maak, en ek kan nêrens kry nie.”

“Natuurlik, hartjie” antwoord sy goedig, en stap vooruit kombuis toe. In die spens gekom, meet sy ’n ruim meter uit. “Sommer bietjie ekstra,” glimlag sy verleë. Sy’t seker gesien hoe my oë rek toe ek die vyf bokse foelie op die rak agter haar sien.

“Dankie, tannie . . . Kom eet Saterdagaand by ons. Ons sal vroeg eet,” nooi ek, gedagtig aan die koue winteraande.

“Dalk ’n ander aand, hartjie,” bedank sy. “Ek en oom Manie gaan sw…volkspele toe.”

Tuis gaan Google ek “volkspele” en luister na ’n liedjiegreep op die FAK se webtuiste:

“Kompatertjie…Draai ons en swaai ons tot laat in die nag. Hier sal ons ander op ons nie laat wag. Eerder sal ons julle wakker laat bly om hier tesaam in die rondte te gly.”

“Ek dink nie ek wil by die swingers óf die volkspelers aansluit nie,” sê ek laataand vir my man. “Hulle kuier tot laataand, so ín die winterkoue.”

“Dis reg so, Liefie,” lag hy vir my, en soen my op my voorkop. “Love you to the moon and back!”

STOEPSTORIE: Elsabé Pienaar

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article