Die 56-jarige Desmond Gysman is pas aangestel as skoolhoof van Foto: Verskaf


DIE St Joseph’s (R.K.) Primêre Skool op Fort Beaufort het ná meer as vier jaar weer ’n permanente hoof aan die stuur van die skool se sake.

Die pos vir ’n skoolhoof het in 2015 vakant geraak nadat Owen Golden op betaalde verlof gegaan het.

Met sy bedanking uit die onderwys verlede jaar kon die onderwysdepartement uiteindelik weer ’n nuwe skoolhoof by die skool aanstel.

Desmond Gysman (56) ’n boorling van Fort Beaufort is die afgelope week in dié pos aangestel.

Skoolhoof by alma mater

Gysman is op 9 September, 1964, op Fort Beaufort gebore en het sy laerskoolopleiding aan die einste skool ontvang waar hy nou as skoolhoof aangestel is.

Hy het sy hoërskoolopleiding aan die John Bisseker Senior Sekondêre Skool op Oos Londen ontvang waar hy ook in 1983 gematrikuleer het.

In 1986 bekwaam hy hom as onderwyser by die Dower Onderwyskollege in Port Elizabeth.

Hy aanvaar sy eerste onderwyspos by die Newton Primêre Skool op Fort Beaufort waar hy vir ’n totaal van drie jaar onderwys gee en doen later ook drie jaar diens by die Primêre Skool Adelaide.

In 1992 word hy aangestel as onderwyser by St. Joseph’s (R.K.) Primêr en word in 2008 bevorder tot departementshoof.

In 2015 word hy die skool se adjunkhoof en nadat Golden op betaalde verlof gegaan het, word Gysman aangestel as waarnemende hoof vir die volgende vier jaar.

Gysman, ’n kranige rugbygeesdriftige, is opgewonde oor sy aanstelling en beoog om die skool na nuwe hoogtes te neem.

“Ek is bly vir die vertroue wat die skool se beheerraad, die personeel, ouers en Katolieke skoolraad in my stel en besef dat ’n groot verantwoordelikheid op my skouers rus,” sê Gysman.

Hy beoog om volhoubare strukture en programme sistematies by die skool in te stel.

Dit wil hy in samewerking met sy personeel en skoolbeheerraad doen. Personeelontwikkeling met die oog op gehalte onderrig vir sy skool se leerlinge is ook hoog op sy agenda.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article