“AS dit pap reën moet jy skep, maar nogtans gee dit niemand die reg om twee weerlose diere op só ’n barbaarse manier van kant te maak nie.”
Dis die mening wat verskeie inwoners uitgespreek het oor die slagting van twee rondloperkoedoes die afgelope naweek binne die bestek van twee dae in die Newtown-woonbuurt.
Dit is nog nie duidelik of die twee koedoes na die woonbuurt verdwaal het en of jagters hulle met honde in die rigting van dié woonbuurt gejaag het nie.
Mid-Karoo Express het die toneel besoek waar die tweede van die koedoes vroeg Maandagoggend in Salviastraat in die Newtown-woonbuurt vasgetrek is.
’n Groot plas bloed en ’n hopie mis was stille getuienis van die grusame toneel wat vroeër die oggend daar afgespeel het.
Luidens die 59-jarige Danny Botha wat oorkant die toneel woon, het hy vroegoggend op sy stoep gesit toe hy skielik die gekletter van hoewe en ’n horde blaffende honde hoor.
“Toe ek weer sien, gly ’n koedoe hier vlak voor my op die steentjiespad. Wat daarna gebeur het, het ek in my ganse lewe nog nooit gesien nie. Ek kan nie glo dat ons mensdom so harteloos en barbaars teenoor ’n weerlose dier kan optree nie. Ek weet dat ons in moeilike tye lewe en dat mense honger is, maar dit gee hulle nog nie die reg om ’n dier so koelbloedig te moor nie.”
Luidens Botha het ’n groot groep mans gewapen met pangas en byle op die weerlose dier toegesak.
“Hy het nog probeer opstaan, maar soos ’n groep hiënas het hond en mens hom op die grond neergepen. Binne ’n oogwink is sy kop afgekap en is hompe vleis in ’n japtrap met kapmesse uitgekap en weggedra. Ek kon nie glo wat ek voor my oë sien gebeur nie. Binne die bestek van tien minute het slegs ’n bloedkol en ’n hopie mis van die arme dier oorgebly.”
Botha het aan Mid-Karoo Express vertel dat die dier se laaste geluide hom nog baie lank sal bybly.
“Wat my veral grief is dat die toneel hom ten aanskoue van tientalle klein kindertjies afgespeel het.”
Mid-Karoo Express het die plaaslike diereregte-aktivis, Petro Heunis oor die aangeleentheid gepols. Sy het haar skok en afgryse daaroor uitgespreek.
“My hart is stukkend oor hierdie wrede optrede teenoor weerlose diere deur hartelose mense. Sulke mense moet gevang en groot boetes opgelê word. Hulle moet selfs in tronke opgesluit en die sleutels weggegooi word,” het Heunis gesê.
Sy het die woonbuurt Newtown uitgesonder as die een waaruit die meeste mishandelde diere kom wat tans deur haar by haar tuiste versorg word.



