J.A. CALATA Senior Sekondêre Skool in Cradock is nou omgewingsvriendelik en geen grassnyers met ongesonde petroldampe word meer op die skoolterrein gesien nie.
Jean Vorster, die skoolhoof, het vertel dat haar skool se rugbyveld, wat ook as sokker- en krieketvelde diens doen, altyd ’n reuse aantrekkingskrag vir die hele omgewing se rondloperdiere gehad het.
“Ons het by tye perde, skape, bokke, beeste en selfs varke wat die gras met hul snoete omgedolwe het, op die veld gehad,” het Vorster vertel.
Die enigste oplossing was toe om die area te omhein en ’n hek in te sit.
“En sedert die begin van vanjaar het ons geen probleme met rondloperdiere nie en hoef ons ook nooit meer gras te sny nie,” het sy gesê.
Die skool het sedert Februarie ’n ooreenkoms met Jas Barendse wat elke dag sy troppie merinoskape bring om op die veld te kom wei. Vorster noem dit hulle natuurlike grasmasjien. Sy sê die skape hou die gras mooi kort en Barendse se teenwoordigheid beveilig ook die perseel aangesien die skape ook op Saterdae en Sondae by die skool kom wei.
Vorster sê die skape wat so rustig wei bring ook ’n gevoel van rustigheid oor die skool.
Met Mid-Karoo Express se besoek aan die skool, het Jas wat in Michausdal woon, vertel hoe gelukkig hy en sy skape oor die vasgestelde weiding is. Daar is jong lammers tussen sy trop en selfs ’n kleintjie wat ’n paar dae gelede gebore is wat ewe kordaat tussen die ander skape wei. ’n Paar van die ooie is ook grootuier.
Die skape is onlangs geskeer en is almal in ’n baie goeie kondisie. Barendse het vertel dat hy op ’n plaas grootgeword het. Sy familie het hul eie plaas naby Graaff-Reinet gehad, maar tydens die apartheidsjare het hulle dit verloor en plaasarbeiders geword. Hy het by die departement van landbou se proefplaas buite Cradock gewerk tot hy afgetree het.
Jas sê sy grootste verlange is om sy eie stukkie grond te hê waar hy met sy merino’s en die dorpers en beeste wat hy op Fort Beaufort het, kan boer.


