Die Stilfees word in ‘n populierbos op die plaas Grootdriefontein net buite Murraysburg gehou. foto:VERSKAF


DIS mos nou hoe ’n mens wil uitspan, rustig onder die blaredak van ’n populierbos, met ’n koel windjie wat die blare roer en ’n paar topkunstenaars op ’n buitelugverhoog.

Voeg daarby jou eie piekniekmandjie en hope speelplek vir kinders, en jy kan maar weet; dis weer tyd vir Stilfees! Dit is die vyfde jaar dat dié musiek-kuier-en-smulgeleent-heid aangebied word op die plaas Grootdriefontein sowat 22km buite Murraysburg.

Feesorganiseerder, boervrou en ma van ses, Karin Reynolds, vertel hoe die gedagte van ’n Stilfees by hulle opgekom het. “Ons gedagte was om, te midde van ons gejaagde lewens, sommer net vir mense ’n plek van stilword te skep. Maar mense moet tog net nie dink dis ’n zen-kamp waar net stemmige stilte heers nie,” lag sy.

“Ons bring goeie Afrikaanse en Engelse musiek na die Karoo toe, en kry altyd interessante kunstenaars om ons feesgangers mee te voer.”

Van die kunstenaars wat vanjaar hartsnare gaan roer en voete gaan kielie (ja, daar word lekker saamge-dans, sommer net daar op die popu-lierbosvloer) is die gewilde Afrikaanse sanger Joshua na die Reën, die driemanskap BrotherBrother met hul Indie Folk-aanslag en jazzsangeres Hannah Foster, wie se streelsagte stem genoeg motivering vir enigeen behoort te wees om die pad na Murraysburg aan te pak.

Feesgangers kan hul eie piekniekmandjies pak, maar daar is ook ’n hele klompie kosstalletjies waarby jy nie sal kan verbyloop sonder om maar voor nóg ’n versoeking te swig nie. Die fokus hier is op “stadige kos”, handgemaak, natuurlik, organies en smullekker.

Die Stilfees is ook ’n eko-vriende-like geleentheid. Karin vertel dat hulle in 2015 met die eerste fees 10 vullisdromme na die dorp se stor-tingsterrein toe aangery het, maar verlede jaar het hulle in dié opsig hul voetspoor tot net een drom laat krimp.

“Stalletjiehouers mag nie plas-tiek- of polistireenverpakking gebruik nie – verpakking moet bio-afbreekbaar wees,” benadruk sy. “Met dit wat nie afbreekbaar is nie, maak ons ‘ecobricks’ wat ons gebruik vir bouprojekte in die dorp.

“Op ’n manier gaan die Stilfees oor ‘Harmonie’ – nie net in musiek nie, maar ook om in harmonie met jouself, jou omgewing, die natuur en in harmonie met mekaar te wees.”

Vanjaar vind die Stilfees op Saterdag, 23 Maart plaas van 10:00 tot 17:00.

Kaartjies vir die Stilfees kos R200 vir volwassenes en R75 vir skoliere, terwyl toegang vir kinders onder ses gratis is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article