Alta Triegaardt (links) ontvang die string pêrels van Sirkelpresident Rika Pienaar. Foto:TERESA OPPERMAN


DIE Bestuur van VLVK Sirkel Cradock, wat bestaan uit ses takke, het verlede week ’n voor-konferensie-bestuursvergadering in Cradock gehou.

Pearston was die enigste tak wat nie verteenwoordig was nie. Die jaarbeplanning van Sirkel Cradock is by hierdie geleentheid gedoen.

Heel eerste op die program is ’n Batikkursus wat deur die alombekende Catherine Knox van Bedford in Cradock aangebied sal word op 6 Februarie by die Schreiner-museum.

Daar is nog ’n paar plekke beskikbaar en enige persoon wat sou belangstel kan met ’n VLV-lid skakel om te registreer.

Die VLV Sirkelkonferensie word op 5 en 6 Maart in Somerset-Oos gehou en die jaarlikse kongres word vanjaar weer by die Goudini Spa by Rawsonville op 22 en 23 Augustus gehou.

Sirkel Cradock het ook verlede jaar ’n kompetisie gehou waarin ’n string pêrels en ook ’n stelletjie pêrel-oorbelle uitgeloot is.

Alta Triegaardt van Kookhuis was die gelukkige wenner van dié string pêrels en Heillie Marais van Hofmeyr het die oorbelle gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article