DIE burgerregteorganisasie AfriForum en die Ndebele-belangegroep die Vulamehlo Kusile Organisation (Vuko) pleit dat landsburgers almal aan vanjaar se nasionale sensus moet deelneem om nie-rassigheid te bevorder.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) se amptelike sensus sal van 3 tot 28 Februarie plaasvind.

Die organisasies wil mense aanmoedig om nie ’n bepaalde ras- kategorie te kies nie, maar om die opsie se kies wat “ander” spesifiseer en dan die kultuurgroep waaraan die persoon behoort, aan te dui, lui ’n gesamentlike verklaring.

Mense moet ook hul huistaal korrek aandui en melding daarvan maak indien hul huistaal nie op die lys genoem word nie.

“Ons moet van ’n rasgegronde narratief en samelewing wegbeweeg.

“Die werklikheid in Suid-Afrika is dat daar baie verskillende kultuurgroepe is.

“Deur ras te gebruik is nie net fundamenteel verkeerd nie, maar skets ook ’n onakkurate prentjie van die komplekse werklikheid op voetsoolvlak.

“Hoe kan ons steeds verwag dat mense hulle in rasgroepe moet klassifiseer as rasklassifikasie afgeskaf is?” vra Barend Uys, AfriForum se hoof van interkulturele samewerking.

Elias Mahlangu, sekretaris van Vuko, sê die Ndebele-kultuurgroep veg elke dag om nie soos “tweedeklasburgers” in hul geboorteland te voel nie.

“Die taal Ndebele ontvang nie die respek en verteenwoordiging wat dit in die openbare uitsaai-wese en by opvoedingsinstellings verdien nie.

“Gemeenskappe kan daartoe bydra dat hul inherente waardigheid gerespekteer en beskerm word deur hul huistaal en kulturele identiteit eerder as ras in vanjaar se sensusopname korrek aan te dui,” sê Mahlangu.

Die SSA se amptenare het vanaf 3 Februaby huishoudings begin aanklop.


– NETWERK24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article