SAMMY Swartz, die gr. 7-fasiliteerder by die Schoombee Primêre Skool in Hofmeyr, het onlangs haar leerders aangemoedig om elkeen ’n klompie leë twee-liter plastiese koeldrankbottels van hul huise af saam skooltoe te bring.
Sy het meegedeel dat sy bekommerd is oor die toename in plastiese bottels en plastiese sakke wat oral rondlê en waarvoor niemand duidelik meer ’n nut het nie.
Haar leerders het nie teleurgestel nie, en sy het aan hulle verskeie maniere gewys om die bottels wat die omgewing so ontsier, te herwin en te hergebruik om hul eie omgewing te verfraai. Sy het versierde mandjies en reuse plastiese blomme laat maak, waarmee sy nou haar klas versier.
Die leerders is ook die uitdaging gestel om huis toe te gaan en daar ook bottels op te tel, dit op te knip en te hergebruik om versierings vir hul eie tuistes te skep.




