’n SAKSOFOONSPELER van Middelburg is van plan om die Karoo se stof af te skud en vir ’n tydperk in New York te gaan musiek maak.
Darren Jacobs se talent het hom reeds in 2018 sy debuutoptrede by Talent Amerika in New York gebied. Nou het die geleent-heid weer oor sy pad gekom om daar op te tree.
So byna is sy kanse om dié reis aan te pak in die wiele gery toe daar gesukkel is om die nodige fondse betyds in te kry.
Danksy weldoeners en donateurs is Darren se finale betaling net-net betyds gemaak en hy het op 22 Junie na New York gevlieg.
Wéér eens het Darren sy musiekreis op ’n hoë noot afgesluit nadat hy twee eerste plekke gewen het in die kategorieë jazz en die ope-afdeling. Hy het ook ’n silwer- sowel as brons-medalje vir kontemporêre musiek gewen.
Daarby het Darren nog ’n eerste plek ingepalm in die kategorie instrumentaliste.
Volgens Darren se ouers, Richard en Michelle Jacobus, het Terry Camp, ’n kuns-agent en prokureur in New York, na afloop van die kompetisie aan hulle die versekering gebied dat hy Darren vanjaar beslis in Amerika tydens sy optredes gaan verteenwoordig.
Darren se planne vir die res van 2019 is om voorbereidings te tref om vir ’n onbepaalde tyd in New York te gaan musiek maak. Hy sal dit doen met die hulp van dié einste kunsagent en prokureur.
Darren en sy ouers bedank graag almal wat hulle op verskeie wyses ondersteun het. Dié hulp het bygedra tot Darren se prestasies in New York.



