CRADOCK se Diereskuiling is verheug oor ’n vroeë Kersgeskenk nadat Danie en Eugene Gerber, plaaslike sakemanne, ’n bakkie aan die skuiling geskenk het.
Nie net het die Diereskuiling nou ’n bakkie om hul werk in die gemeenskap voort te sit nie, maar Danie Gerber het ook aangebied om met die onderhoud van die bakkie te help.
Die Diereskuiling het tot dusver sonder ’n voertuig van hul eie diens in die gemeenskap gelewer en moes van lede van die bestuur se voertuie gebruik maak om rondloper honde of katte te gaan oplaai.
Die Cradock Diereskuiling bedank Danie Gerber en sy seun Eugene vir hul onbaatsugtige optrede en goedgesindheid teenoor die skuiling.
Volgens Danie doen hul al meer as 40 jaar besigheid in Cradock en “sonder die lojale ondersteuning van die Cradock-gemeenskap sou niks wat ons doen moontlik gewees het nie.
“Baie dankie Cradock en gemeenskap vir julle voortdurende ondersteuning.”


