DROË krane in die hoogliggende gebiede van Cradock is van Maandag af op die spits gedryf toe ’n groep sakelui besluit het om sake in eie hande te neem en die probleem op te los.

’n Ondersoek het getoon dat die kanaal wat water vanaf die keerwal in die Groot Visrivier na die Geelbooi-dorpsopgaar-damme herlei, bykans heeltemal toegegroei is met riete, boomstompe en struike.

Sover vasgestel kon word het die Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM), wat bykans vyf jaar gelede die riooldienste en watervoorsiening van Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) oorgeneem het, glad nie die jaarlikse skoonmaak van die kanaal in Julie gedoen nie.

Dit is die droë tydperk wanneer geen water in die rivier is nie en kanale skoongemaak en hersien word.

Die toegegroeide kanaal het veroorsaak dat slegs ’n klein stroompie water vir gebruik deur die dorp se 40 000 inwoners, deurgelaat word.

Sakelui het laaigrawe, ’n TLB, vervoermiddels vir die toerus-ting en meer as R15 000 vir diesel en lone beskikbaar gestel sodat die projek sonder enige koste aan CHDM aangepak kon word. ’n TLB wat weke gelede van CHDM aangevra is, het Maandag opgedaag en met die werk gehelp.

Lou Venter, organiseerder van die projek, het gesê dit het 15 werkers met elektriese sae en ander gereedskap ure geneem om die plantegroei in die ge-deelte wat strek vanaf die gholfbaan tot by die damme uit te roei en die voor skoon te maak.

’n Pomp by Geelbooi-damme wat nie gewerk het nie, is herstel en meer water kan na die suiweringsdamme gepomp word.

“Die meganiese toerusting en die suiweringsdamme het baie onderhoud nodig en CHDM sal dringend aandag daaraan moet gee,” het Venter gesê.

Thobeka Mqamelo, woordvoerder van CHDM het erken dat dele van die dorp waterpro-bleme ondervind, maar het dit toegeskryf aan opdrifsels wat met die onlangse reën in die kanaal beland het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article