DIE agteruitgang en verval van sy geliefde dorp, Cradock, het ’n sakeman van hier genoop om in te gryp en die dorp te probeer regruk.
En so is Lou Venter, plaaslike sakeman, se projek “Kom-ons-ruk-Cradock-reg” bekend gestel.
Cradock, eens die hoofstad van die Middellande en ’n voormalige mededinger vir Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie, ontvang deesdae baie slegte publisiteit oor die verval wat die afgelope meer as twee dekades daar plaasvind.
In dié tyd is daar glo geen aandag aan die toe-voervore, wat water uit die Groot Visrivier na die dorpsdamme bring, gegee nie; geen noemenswaardige onderhoud van strate het plaasgevind nie; geen aandag is aan die vullis-stortings-terrein of die rioolverwerkingsaanleg gegee nie.
Elektrisiteits- en watertoevoer na sekere dele van die gebied is onvoorspelbaar en daar hang ’n bedreiging van totale duister oor die dorp indien die skuldlas van R97 miljoen aan Eskom nie betaal word nie.
Hierdie verval het Venter aangemoedig om dinge in eie hande te neem.
“Alles het begin toe ons so met water gesukkel het. Ek het ’n selfoonplatform opgestel en mense het dadelik hul harte en beursies oopgemaak om ons dorp op te hef om die toeristemark, en natuurlik ook ons beleggings, te beskerm.
“Omdat ons so sukkel met die verkeersdepartement, het een van ons lede selfs aansoek gedoen om te kwalifiseer om voertuie te registreer,” het hy vertel. Hierdie selfoonplatform het nou al meer as 200 lede.
Die groep het eerstens die waterkrisis aange-spreek en die voor, wat toegegroei was met fluitjiesriet en sluise wat verroes was, skoon en reggemaak.
Waar een man die nodige masjiene vir die werk gegee het, het ander brandstof, arbeid en kos vir die werkers voorsien en binne enkele dae was die probleme opgelos.
Volgende was die stortingsterrein wat heeltemaal onbegaanbaar was en veroorsaak het dat rommel buite die gebied gestort is. Met die regte toerusting is hierdie probleem ook binne ’n dag opgelos.
Intussen is die leivoor vir tuine laer af in die dorp ook skoongemaak en het van die sakemanne begin om vullisdromme wat tussen twee pale geanker is, oral op te rig.
Die Kom-ons-ruk-Cradock-reg-projek was só aansteeklik dat die dames van die tuinbouklub ingespring het en ’n speelparkie skoongemaak en verfraai het.
Hulle het ook begin om oop ruimtes in die dorp te verfraai en selfs toesig gehou dat die strate skoongemaak word.
Kragprobleme is ’n groot kopseer in sekere dele van die dorp, soos die industriële gebied, die gevangenis en sommige plase. Wilhelm Smit, nog ’n sakeman van Cradock, sê hierdie kragonderbrekings is baie sleg vir besigheid.
“Die koste om ’n kragopwekker te hardloop is geweldig. Net om krag by ons petrolpompe te kry kos ons R4 000 vir minder as 24-uur. Elke keer lap en pap hulle net die vrot lyne wat al jare gelede vervang moes gewees het,” het hy gesê.
Toe een man begin om die verskriklike slaggate in die straat voor sy besigheid toe te gooi, het talle sakelui en inwoners óók ingespring en slaggate begin opvul in strate wat vir jare lank geen onderhoud gekry het nie.
Afgevaardigdes van Cradock en Middelburg het intussen ’n hofaansoek ingedien om te dwing dat alle geld wat in die twee dorpe vir elektrisiteit betaal word, slegs vir betaling aan Eskom aangewend mag word.
