OM Cradock weer as ’n gesogte Karoodorp te vestig vir inwoners, sakelui en besoekers, het die Cradock Sakeforum ’n debietorder-fasiliteit ingestel waardeur almal wat die dorp se herlewing op die hart dra, finansiële bydraes kan lewer.
“Inwoners het tot dusver alles wat hulle gedoen het, uit hul eie sakke betaal,” sê Lou Venter, wie aan die stuur is van die projek om Cradock reg te ruk.
“Dié vrywilligers het ook hul eie voertuie gebruik en in menige gevalle ook arbeiders uit hul eie sakke betaal. Ek dink ons moet nou hierdie mense ondersteun. As ons genoeg geld invorder kan ons selfs iets aan die strate doen wat in so ’n haglike toestand is.”
Daar word ook versoek dat almal wat by die dorp se Facebook-blad aangesluit het, jaarlikse ledegeld van R100 betaal. Besonderhede van hoe inbetalings gedoen en debietorders gereël kan word, is beskikbaar by Lou Venter (082 875 5761).
Alle fondse, inbetalings en uitgawes, sal streng deur Gerber, Botha en Gowar ouditeure gemonitor word.
Venter is ook van plan om ’n bakkie vir die projek aan te koop sodat dit nie meer vir privaat eienaars nodig sal wees om hulle voertuie te gebruik nie.
“Hiervoor verlang ons die ondersteuning van sakelui. Almal wat bydraes maak se handelsmerke sal op die bakkie aangebring word,” sê Venter.
Hy is ook van voorneme om ’n verantwoordelike bestuurder aan te stel wat met die bakkie gaan ry en ook help met projekte op die dorp.
