DIE jaarlikse sertifikaatseremonie van die SA Toerismekollege in Graaff-Reinet het die afgelope Vrydagoggend plaasgevind.
Gaynor Rupert, voorsitter van die kollege, het die donateurs, familie en vriende van die studente welkom geheet, en die studente gelukgewens met hul kwalifisering. “Julle het hard gewerk. Gryp nou die lewe aan met albei hande – ek is baie trots op julle,” het sy die studente toegewens.
Die plegtigheid is bygewoon deur die ambassadeur van Switserland, Helene Budliger-Artieda en haar eggenoot, Alex, asook Mariam Humayoun van die Europese Unie, Heather Cooper van die Deense TK Foundation en Louise James van die Old Mutual-stigting.
Benewens die 89 studente wat vanjaar studeer aan die gasvryheidsakademie, het 24 studente gekwalifiseer as professionele spoorsnyers, en 10 studente het hul opleiding aan die Herdersakademie voltooi.
Laasgenoemde is ’n splinternuwe vertakking van die toerismekollege wat op die plaas St. Olive (Graaff-Reinet-distrik) aangebied word. Dit het dit ten doel om studente op te lei in gesonde weidingspraktyke ter bewaring en verbetering van grondtoestande.
Nasilele Lubasi (Zambië) is aangewys as topstudent in gasvryheid, met Nketsang Setshego (Botswana) as naaswenner.
Elkeen het die geleentheid gewen om, ná afloop van hul 12 maande internskap, in 2020 vir drie maande praktiese ondervinding te gaan opdoen in Portofino, Italië, aan huis van Barbara Pudel, ’n Switserse ondersteuner van die kollege.
Sarah Tompkins (Samara private wildreservaat) en Lyell van Rensburg van Graaff-Reinet het bekers oorhandig aan die beste spoorsnyers van die drie onderskeie spoorsnyerskampusse. Hulle is Dorence Khoza (Londolozi), Shaun Frieslaar (Samara) en Kitsiso Gakelekgolelwe (Tswalu Kalahari).
Stanley Mathebula is aangewys as die beste student aan die Herders-akademie. Hy was ook een van die studente wat die geleentheid gegee is om die donateurs van die kollege te bedank vir hul ondersteuning.
“Nie net het ek nou wonderlike opleiding en kennis ontvang waarmee ek ons geliefde land se grond kan verbeter en herstel nie – ek het ook vir die eerste keer in my lewe sneeu gesien én die see besoek,” het Mathebula skamerig gelag.
Inna van Heerden het aan Busisiwe Vazi ’n trofee oorhandig nadat sy aangewys is as beste student in kookkuns.
Vazi wen daarmee ’n internskap saam met die uitvoerende sjef van Thornybush Collection, Glenn van Heerden.
Die SA Toerismekollege is ’n nie-winsgewende organisasie wat funksioneer onder die vaandel van die Vredesparkstigting.
Dit is in 2001 gestig deur wyle dr. Anton Rupert, en verskaf professionele opleiding aan studente uit minderbevoorregte, landelike gebiede uit verskeie lande in Suidelike Afrika.




