Rosmead inwoners het ‘n byeenkoms gehou teen misdaad en geweld. Foto:Verskaf


OP Donderdag, 1 Maart is die 20-jarige Doniya Pienaar wreed op Rosmead, sowat 13km buite Middelburg verkrag en vermoor.

Sy het die dag van haar moord saam met vriende gekuier. Haar lyk is eers op Saterdag, 3 Maart deur ’n vrou van Rosmead ontdek.

Die plek waar haar oorskot gevind is, was naby haar ouerhuis gewees.

Die polisie op Middelburg is steeds druk besig met die ondersoek en is steeds op soek na haar moordenaar(s). Geen inhegtenisneming is tot op hede gedoen nie.

Op Menseregtedag, 21 Maart, het die DA ’n openbare byeenkoms gereël waar Donald Smiles, voormalige DA (LP), die gemeenskap van Rosmead toegespreek het. Sy boodskap was dat alle mense deur God ge-skape is en dat ons as mens mekaar moet respekteer.

“Die God van Liefde verwag dat ons mekaar moet lief hê,” het Smiles gesê.

Die byeenkoms is gehou by die boom waar Doniya se lyk gevind is. Inwoners het met hul plakkate waarop staan “Reg op Lewe”, “Staan op vir jou Regte”, “Reg op Respek” en “Menswaardigheid” die geleentheid ondersteun.

Van die vroue was baie emosioneel en het hul harte uitgepraat oor hul vrees om hul kinders vryelik skool toe te stuur of selfs net te laat buite speel.

Plakkate soos “Genoeg is genoeg, ons is moeg” dui ook verder op hul ontevredenheid met die feit dat die skuldiges steeds op vrye voet in die gemeenskap rondloop.

Rosmead se inwoners het a.o. Campher en die gemeenskapspolisiëringsforum se Weden Dortley en Johanna Daniëls vir hul teenwoordigheid bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article